MENSE wat sonder ’n afspraak opdaag vir hul Covid-19-inenting in die Wes-Kaap sal in baie gevalle gehelp kan word, maar moet bereid wees om te wag en miskien ’n tweede keer terug te kom indien daar nie genoeg entstof vir die dag by die lokaal afgelewer is nie.
Volgens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, geniet inwoners bo 60 wat sonder ’n afspraak opdaag vir hul eerste en tweede inentings voorrang onder diegene sonder afsprake en sal hulle eerste gehelp word.
Na hulle sal mense tussen 50 en 59 jaar sonder afsprake hul eerste inenting ontvang, en as daar nog entstof beskikbaar is, sal mense tussen 35 en 49 jaar sonder afsprake ook gehelp word.
Maak egter seker dat jy wel geregistreer is.
Volgens Winde dien die Wes-Kaap tans sowat 150 000 dosisse entstof elke week toe.
“Ek is egter vol vertroue dat die verskaffing van entstof sal toeneem. Ek vra voortdurend vir meer entstof.”
Hy het voorts die groot aantal mense tussen 35 en 49 jaar wat sedert 15 Julie vir die entstof geregistreer het, bedank vir hul geesdrif om te registreer.
“Dit is presies wat ons nodig het om die pandemie te klop en lewens en werk te red,” sê Winde.
So word mense sonder afsprake gehelp
