Deur Liesel le Roux
DIE omvangryke projek om diepwater vanaf Blossoms na Oudtshoorn te bring, sal op die vroegste teen die einde van 2020 voltooi kan word, sê Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Swart het die week vrae van Die Hoorn beantwoord oor die vordering met die verskillende stadiums van dié groot projek.
Volgens Swart is die tenders wat ontvang is vir die konstruksiegedeelte van die projek veel hoër as wat aanvanklik beraam is. Dit het tot gevolg dat die R50 miljoen wat die nasionale Departement van Water en Sanitasie vir die projek beskikbaar gestel het, nie voldoende sal wees om die water van Blossoms tot binne Oudtshoorn te bring nie.
Daar word tans beraam dat dit uiteindelik sowat R35 miljoen meer sal kos om die projek te voltooi.
Die ongelyke, klipperige en bergagtige terrein waardeur die pyplyn gelê moet word, bied uitdagings wat nie tydens die voorlopige beplanningstadium voorsien is nie en het die pryse aansienlik opgejaag. Die terrein vir die pyplyn bestaan hoofsaaklik uit jagplase in privaatbesit wat verdere uitdagings bied ten opsigte van omgewingsvereistes en toerisme.
Die konstruksie van die pyplyn tot by die reservoirs in die dorp sal na beraming sowat 10 maande duur.
Intussen gaan die beplanning voort om met die huidige beskikbare fondse die boorgate toe te rus en die pyplyn sover moontlik te bou. Van daar kan drinkwater na die dorp vervoer word, byvoorbeeld per spoor sou die situasie met die damvlakke so drasties verswak en water ingery moet word.
Daar word intussen gesprekke gevoer vir die beskikbaarstelling van nog R35 miljoen om die projek te kan voltooi.
Dié gesprekke is baie positief, sê Swart.
Ander gedeeltes van die projek gaan intussen voort. Gedeeltes van die materiaal vir die projek, soos seksies van die ondergrondse pype, is reeds aangekoop nadat daar vroeër vanjaar ’n tender vir die lewering daarvan aanvaar is.
Die tenderproses vir die meganiese en elektriese installasie van die pompe by die eksplorasiegate en die aanlê van krag is ook aan die gang.
• Blossoms sal sowat 5 Ml (megaliter) per dag aan Oudtshoorn kan lewer; die helfte van die huidige waterverbruik op die dorp.