So het KKNK vanjaar voortgegaan!

HOEWEL 2020 se KKNK as gevolg van die Covid-19-pandemie nie plaasgevind het nie, het die fees vanjaar op talle innoverende maniere voortgeleef, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

“In moeilike en onsekere tye bied die kunste ontvlugting, dit is ’n stem vir gemeenskappe en dit bring mense byeen om steeds in hul omgewings ’n verskil te maak. Dit is juis hier waar die KKNK sedert Maart vanjaar poog om gehore te vermaak en rolspelers te ondersteun”, brei hy uit.

Theart sê met vanjaar se beperkings was dit nodig om kreatief te wees.

“Dit is die KKNK se visie om dwarsdeur die jaar kunsgeleenthede te skep en ons kon tot dusver vanjaar daarin slaag om feesgangers op verskeie maniere in hulle huise te vermaak.”

So lyk vanjaar se projekte en inisiatiewe:
• Die KKNK was saam met Netwerk24 betrokke by ’n eerste kortfilm-projek, Kortom, wat vroeg in Augustus die lig gesien het en oor ’n tydperk van nege weke nege kortfilms eksklusief aan Netwerk24-intekenaars beskikbaar stel. Die kortfilms bestaan uit vier komedies, drie dramas, een riller en ’n dansproduksie.

• Teksmark, wat van 27 tot 29 Oktober 2020 by die Baxter-teatersentrum in Kaapstad plaasvind, bied skrywers vanjaar die vyfde keer die geleentheid bied om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste of teksidees voor te lê. Dié projek is in 2018 met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir innovasie in teater vereer.

’n Rekordgetal teksvoorstelle is vanjaar ontvang en die evaluasieproses is tans aan die gang. Tekste wat vanjaar aangebied word, word einde September bekend gemaak.

• Die Mothership Sessions-musiekreeks, eksklusiewe musiekkonserte met van Suid-Afrika se gunstelingsangers soos Elandré, Emo Adams, Karen Zoid, Watershed, Anna Davel, Roan Ash en Elvis Blue, is vir die KKNK in Kaapstad by Mothership Studios opgeneem en word wêreldwyd gestroom.

• Hoewel die 12de Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, ook nie vanjaar kon plaasvind nie, word twee aanlyn musiekkonsertreekse tans aangebied.

Vir die eerste konsertreeks het Klassique kragte saamgespan met die Kaapse Filharmoniese Orkes vir drie eksklusiewe konserte en ’n vierde konsert saam met die Charl du Plessis Trio, wat in Switserland opgeneem is. Die Kaapse Filharmoniese Orkes se program sluit drie klassieke musiekuit- voerings in, waaronder ’n wêreldpremière van die verwerking van Beethoven se alombekende Triple Concerto, wat deur drie musikante op drie verskillende kontinente opgeneem en in Kaapstad geredigeer is.

Die tweede konsertreeks bestaan uit vier uitvoerings saam met die Kaapstad Barokfees, ondersteun deur die Rupert Musiekstigting. Dié konsertreeks is vanaf einde Oktober aanlyn beskikbaar, met inligting en kaartjies van middel-September te koop.

• Nog ’n eerste vir die KKNK is vanjaar se Virtuele Galery wat meer as 200 werke van 45 visuele kunstenaars ingesluit het. Die reaksie op die virtuele galery was oorweldigend met meer as 34 000 besoekers wat dit besoek het.

• ReWOLusie, wat in 2019 met die Blou Fiësta bekroon is, het in 2020 ’n nuwe fokus gehad: Oudtshoorniete het saamgewerk om komberse vir behoeftiges te brei en te skenk.

• Die KKNK het ook die Tribuo-fonds ondersteun, wat broodnodige steun bied aan rolspelers in die kunste wat deur die inperkingsregulasies ge-raak word.

• Volgens Theart kan teater- en filmliefhebbers uitsien na aanlyn-teaterproduksies wat binnekort gestroom sal word, asook ’n nuwe Suid-Afrikaanse film eksklusief op die KKNK se virtuele platforms.
“Verder is ons besig met ’n e-handelprojek wat eksklusiewe produkte uit die Klein Karoo beskikbaar stel.”

Hy sê daar word beplan om “beslis in 2021 weer op Oudtshoorn fees te vier.

Die presiese formaat sal bepaal word deur die regulasies wat dan bestaan, maar ons sien uit om feesgangers in die Klein Karoo terug te verwelkom!”