Skuldige 12 jaar tronk toe gestuur

DIE man wat in Mei verlede jaar ’n jong talentvolle Dysselsdorper, Ruwaan (Boe­tie) Kennedy (20), buite ’n nagklub op Dysselsdorp doodgesteek het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof na ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Dysselsdorp en Oudtshoorn is verlede jaar in rou gedompel toe Ruwaan wat verlede jaar as deel van die KKNK se internskapprogram in die KKNK-kantoor op Oudtshoorn gewerk het, vermoor is.

Hy is deur kollegas en ander mense wat hom geken het, as ’n voorbeeldige en talent­volle jong man bestempel.

Ruwaan se moordenaar, Christopher Prins (27) het in sy pleitooreenkoms erken dat hy Ruwaan die oggend van 4 Mei 2019 een keer met ’n mes in die bors gesteek het nadat hulle vroeër binne ’n nagklub woorde gehad het.
Volgens hom het hy nie gedink dat Kennedy sou sterf nie.

Hy het sy spyt uitgespreek oor wat hy gedoen het en erken dat hy verkeerd opgetree het en gestraf moet word.

Prins se regsverteenwoordiger, adv Shaun Ferreira, het die hof versoek om af te wyk van die minimum-vonnis van 15 jaar omdat Prins skuldig gepleit en nie die hof se tyd gemors het nie.

Hy het ook berou getoon.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk. Die oor­ledene was egter ongewapen en watter straf die hof ook al oplê, sal hom nie terugbring nie.

“Die beskuldigde se familie kan hom nog gereeld in die tronk gaan besoek, maar die oorledene is vir altyd weggeneem,” het Smith gesê

Volgens Smith is die moeder, ouma en familie van die oorledene tevrede met die ooreenkoms.

Tydens Prins se borgaansoek het die ondersoekbeampte, sers Enver Wessels, getuig dat Ruwaan 26 keer met ’n mes gesteek en daar ook gepoog is om ’n ooggetuie te steek.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde het geen ander keuse gehad as om skuldig te pleit en berou te toon nie omdat die staat ’n sterk saak teen hom het.

“Die gemeenskap verwag van die howe om swaar strawwe op te lê om nie vertroue in die howe te verloor en die reg in eie hande te neem nie.”

Sy het ook daarop gewys dat moorde en verkragting landwyd ’n ernstige bron van kommer is.

Prins is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

• Die moeder van die oorledene het na die vonnisoplegging in die hof inmekaargesak.

Sy moes daarna deur familie en vriende na buite gehelp word. (Deur Garnett Wicomb)