Grootoogkinders loer deur die hek terwyl hul met groot opwinding wag vir die jaarlikse St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum se Sinterklaasdag.
Op Vrydag 6 Desember het meer as 800 kinders die perseel binnegekom toe die hekke om 16:00 oopmaak.
Hierdie is ’n hoogtepunt vir baie kinders vir wie dit die enigste vorm van Kersfees met Kersgeskenke is.
Met hul aankoms ontvang elkeen ’n kolwyntjie en ’n vrugte-ysie. Daarna neem hulle, hul sitplekke in en wag vir die Kerskonsert om te begin.
Die storie van Jesus se geboorte word vertel en Kersliedere word tussendeur gesing. Kinders het luidkeels saam gesing en ook lekker gelag vir gedeeltes van die opvoering.
Na afloop van die vertoning maak Sinterklaas op ’n brullende ysterperd sy verskyning met twee buurthonde wat saamdraf. Daar word geskenkies uitgedeel en elke kind kry ’n choc-chip-koekie om huis toe te neem.
“Hierdie is elke jaar persoonlik vir my ’n hoogtepunt, die kinders se opwinding is tasbaar. Dit laat my ook net weer opnuut besef hoe ’n klein gebaar soveel vreugde kan verskaf. Daar is niks mooier as hulle gesiggies wanneer die kinders glimlaggend huis toe gaan nie,” vertel Angelique Erasmus wat hierdie spesiale dag al sedert 2018 bywoon.
Om betokke te raak by hierdie instansies, maak gerus kontak met hulle by 044 203 9606, of besoek hulle by Wolfweg 29, Oudtshoorn.