Raad onveranderd na tussenverkiesing

Ferlicia Abrahams, die nuwe PA raads-lid wat verlede Woensdag verkies is. Foto verskaf

Die Patriotic Alliance (PA) is steeds in beheer van Wyk 9 (Dysselsdorp en Schoemanshoek) nadat hulle kandidaat, Ferlicia Abrahams, die tussenverkiesing verlede week op Woensdag 4 Desember, gewen het.

Die wyk het vakant geraak toe die PA raadslid, Bertram Jantjies, bedank het en hom by die DA aangesluit het. Jantjies het Woensdag as die kandidaat vir die DA gestaan. Dit is die tweede tussenverkiesing wat in Wyk 9 gehou was.

Die eerste een was aan die begin van die jaar toe die ANC raadslid, Chad Louw bedank het en by die PA aangesluit het. Jantjies het met daardie verkiesing as PA-kandidaat met ’n groot meerderheid gewen.

Die uitslae van Woensdag se tussenverkiesing was as volg: PA 995, ANC 642, DA 353 en IFO (‘n nuwe party) 29.

Die setels in die Oudtshoorn-raad is tans as volg: Regerende partye: ANC (7), VF+ (3), PA (2), Advieskantoor (1), OGI (1). Die opposisiepartye is DA (7), Icosa (2) SaamstaanSA (1) en GOOD (1). (HANNES VISSER)