“As daar een ding is wat julle vir Sharlaine kan doen, dan is dit om goed te doen in jul eksamen.”
Dit was Saterdag die versoek van eerw Garth Sweetland aan die matrikulante van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn tydens die begrafnis van die 19-jarige matrikulant, Sharlaine Lamont, in die Bridgton United Congregational Kerk.
Lamont en haar kêrel, Ralston Bezuidenhout (21) is die oggend van 28 Oktober in Dassieweg deur ’n motor getref waarna die bestuurder weggejaag en steeds nie na vore gekom het nie.
Bezuidenhout was dié week nog in die hospitaal.
“Sharlaine se sitplek in die eksamenlokaal sal nou leeg wees maar julle kan haar trots maak deur jul beste te doen al het dit miskien die afgelope jaar nie goed gegaan nie,” het Sweetland aan die matrikulante gesê.
“Sê vir jouself: As ek vir iemand iets wil doen laat ek dit vir Sharlaine doen. Sy het na die geboorte van haar kind teruggegaan skooltoe en het drome gehad wat in ’n oogwink tot niet gemaak is. Julle moet by die skool leef soos julle vandag hier jul laaste eer bewys.”
’n Oud onderwyser van Sharlaine het met die huisdiens gesê sy was ook ’n puik atleet en die skool kon altyd op haar staatmaak vir ’n oorwinning. “Sy was ’n raasbek maar het haar plek geken en almal gerespekteer.”
’n Familielid, Johandre Coetzee, het in sy huldeblyk Sharlaine as ’n sprankelende en spontane mens beskryf, iemand wat altyd bereid was om te help waar sy kan.
“Dit is moeilik om totsiens aan iemand soos Sharlaine te sê maar die familie berus by wat God gedoen het.”
Die kerkkoor en die sanggroep, Young Ambassadors, ’n koor vir jongmense waarvan Sharlaine lid was, het tydens die diens sangstukke gelewer.
Leerders van die Hoërskool Môrester het buite die kerk en by die begraafplaas hul laaste eer met erewagte getoon terwyl onderwysers en matrikulante die draers van Sharlaine se kis na haar laaste rusplek was. (Deur Garnett Wicomb)
- Die polisie soek steeds na die bestuurder van die motor wat Sharlaine en haar kêrel getref het.
- Die ondersoekbeampte, ao Gregory Veldman, doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat vertroulik hanteer sal word.
- Hy kan gekontak word by 044 203 9200 of 079 894 1897.
