Ses in Oudtshoorn hospitaal na ongeluk in Voortrekkerweg weens dronkbestuur

Bo en onder: Die toneel van die ongeluk voor die Oudtshoorn Munisipaliteit se gebou in Voortrekkerweg. Foto’s verskaf

’N MOTORONGELUK Saterdagaand, 8 April in Voortrekkerweg voor die Oudtshoorn Munisipaliteit het tot gevolg gehad dat minstens ses mense per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem is. Die Oudtshoorn Polisie ondersoek gevolglik ’n klag van dronkbestuur.

Na bewering was daar vyf voertuie betrokke waarvan drie beskadig is. Drie van die voertuie was geparkeer voor die munisipale gebou.

Volgens inligting wat vertroulik aan Die Hoorn verskaf is het ’n wit Ford Lazer na bewering eers ’n wit Suzuki Jimny wat baan verwissel het getref en toe ’n silwer VW Polo TSi.

Die Ford het op die sypaadjie ’n muurtjie en paal voor die munisipale gebou getref en omgeslaan. Die ses insittendes is dié wat hospitaal toe geneem is.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die ongeluk omstreeks 21:44 plaasgevind. Die bestuurder van een van die voertuie was na bewering onder die invloed van drank.

Spies sê dat beskikbare inligting daarop dui dat die polisie na die toneel uitgestuur is en dat hulle met hul aankoms ’n voertuig gevind het wat omgeslaan het en met ander voertuie gebots het.

“Die 32-jarige bestuurder is in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur. Hy is later vrygelaat en gewaarsku om op ’n latere datum in die hof te verskyn,” sê Spies. Hy voeg by dat die ondersoek na die voorval steeds voort duur. (Deur Stefan Skapie Goosen)

– Navrae oor die omvang van die insittendes se beserings en hul huidige toestand is aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.