Selfoonreus brei uit op dorp

Happy Mhloleli in aksie met die gespesialiseerde masjien in St Johnstraat, Oudts-hoorn. Foto Angelique Erasmus

DIE opgrawingswerk wat tans in verskeie strate in Oudtshoorn plaasvind, word gedoen in opdrag van Vodacom, een van Suid-Afrika se grootste diensverskaffers, wat sy infrastruktuur opgradeer.

Die optiese veselkabels wat gelê word, sal die Vodacom-selfoonto-rings op die dorp met mekaar verbind deur middel van 10G-kabels.

Volgens Johan Theron, transmissiebestuurder vir die Oos-Kaap, sal dit beter netwerkspoed meebring en die selfoonnetwerk stabiliseer. Dit sal tot beter selfoonopvangs en vinniger dataspoed lei.

Theron sê die opgradering word ook met die oog op die toekoms gedoen, wanneer die 5G-netwerk uitgerol word. 5G sal ’n internetspoed wat tot 100 keer vinniger is as 4G bied.

“Ons beoog ook om FTTH (Fiber to the Home) en FTTB (Fiber to Business) in die toekoms vir Oudts-hoorn beskikbaar te stel, en dan is die infrastruktuur reeds hier en reg om gebruik te word,” sê Theron.

Die werk op Oudtshoorn word deur LTS Comms, wat takke regoor Suid Afrika het, gedoen.

“Ons maak so ver as moontlik van plaaslike kontrakteurs gebruik om die ondersteuningswerk te doen, soos die optel van die gruis en teer sodra die slote gesny is,” het Eric Stroud, projekbestuurder gesê.

Die maatskappy gebruik ’n baie gespesialiseerde masjien, bekend as ’n trencher side 3 cutter.

Happy Mhloleli is slegs een van vier mense landwyd wat dié masjien kan opereer en is ook ’n instrukteur wat opleiding op die masjien gee.

Die masjien sny ’n sloot sowat 230 mm diep en werk met radiobeheerkontrole wat om die operateur se lyf vasgemaak word.

Nie net is dit vinniger as om die sloot met die hand te grawe nie, maar ook veiliger omdat daar nie sommer drade of pype raakgesny word nie.

Dit verseker ook dat die slote vinniger gesny word en die werk dus baie vinniger afgehandel kan word.

Sodra die sloot gesny is, word die klippe, teer en sand verwyder. Daarna word die nuwe kabels in die sloot gelê en die sloot weer toegemaak.

“Daar word oor geen hoofpaaie slote gesny nie, maar eerder onderdeur die paaie gewerk om te verseker dat verkeer so min as moontlik verontrief word,” sê Stroud. Wanneer daar wel op besige paaie gewerk moet word, word dit laatmiddae en naweke gedoen wanneer daar minder verkeer in die middedorp is. (Deur Angelique Erasmus)