Permanente skorsing staar skoolseun in gesig

DIE skoolseun van Prins Albert wat ’n medeleerder twee weke gelede met ’n mes op die terrein van die Hoërskool Zwartberg gesteek het, is permanent uit die skool geskors, hangende die goedkeuring van dié stap deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).

Die skool se beheerliggaam het verlede Donderdagmiddag hieroor vergader en besluit “dat die seun permanent uit die skool verwyder moet word”, het die skoolhoof, Ricky McKnight, by navraag aan Die Hoorn gesê.

“Dié aanbeveling is aan die WKOD deurgegee, en daar word op die departement se goedkeuring en finale beslissing gewag.”

Dit volg nadat die seun (18), in graad nege, die ander seun (17), in graad elf, tydens eerste pouse op die skoolterrein aangeval het, glo omdat laasgenoemde “per ongeluk teen hom gestamp het”, het ’n mede-leerder, wat ’n ooggetuie was, vertel.

Die slagoffer is agt keer raakge­steek, onder meer teen die voorkop, op die rug en teen die voorarms en hande soos hy die aanval afgeweer het. ’n Personeellid het die mes by die vermeende oortreder afgevat en hom probeer kalmeer. McKnight het die ambulans en die polisie ontbied.

Die slagoffer is na die Prins Albert Hospitaal geneem en die vermeende oortreder is in hegtenis geneem. Laasgenoemde is, ná assessering deur die polisie, in die sorg van sy ouers vrygelaat. Die slagoffer is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Die vermeende oortreder het verlede Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn. Sy volgende verskyning is op 4 Maart, het die staatsaanklaer, Marvon de Vos, by navraag gesê.

Inwoners van die woonbuurt Noord­einde in Prins Albert het intussen vergader om beswaar te maak teen die vermeende oortreder se aggressiewe gedrag en op sy skorsing uit die skool aangedring. Leerders het ook op die skool se Facebook-blad geëis dat hy nie weer op die skoolterrein toegelaat word nie.

Teen saktyd het die WKOD nog nie op navrae gereageer nie. (Deur Marlene Malan)