SANW reageer op riool- en waswater in Grobbelaarsrivier

DIE SANW het reeds verskeie stappe gedoen om die situasie aan te spreek van riool- en waswater wat via ’n stormwaterpyp in die Grobbelaarsrivier beland, sê brig-genl Mafi Mgobozi, SANW- woordvoerder.

Mgobozi wat gereageer het op ’n onlangse navraag van Die Hoorn nadat Hikkie Marais, ’n sakeman van Oudtshoorn, ’n emmer besoedelde water uit die rivier voor die kantoordeur van raads-lid Johan Fourie gaan neersit het, wou ook weet wie die ander gebruikers van die betrokke storm-waterpyp is.

“Die vraag bly steeds of die Infanterieskool die enigste is wat hierdie stormwaterpyp gebruik. Langs hierdie roete is honderde huise, ’n provinsiale hospitaal, Mediclinic, gastehuise en ’n aftreeoord. Die aangeduide stormwaterpyp vanaf die Infanterieskool tot by die Grobbelaarsrivier is sowat 2,5 km lank,” skryf hy.

Volgens Mgobozi is van die Infanterieskool se personeel deur personeel van omgewingsdienste opgelei oor die bestuur van onder meer die stormwaterstelsels, en word daar daagliks inspeksies gedoen om te verseker dat geen riool­stelsels verstop is en in die stormwaterstelsel oorvloei nie. Kontrakteurs is voorts na-ure beskikbaar om enige riool- of stormwateruitdagings aan te spreek.

Mgobozi sê die opgradering van die vervalle riool- en stormwaterstelsels by die Infanterieskool is deur die SANW en die Departement Openbare Werke goedgekeur en sal binnekort afskop.

Volgens hom kommunikeer die omgewings­afdeling van die Infanterieskool en die omge­wings­­gesondheidskantoor van die Tuinroete Dis­- triksmunisipaliteit gereeld en is die Infanterieskool byvoorbeeld op 9 Oktober 2018 bedank vir vinnige reaksie om te voorkom dat gryswater in die Grobbelaarsrivier invloei.

“Die militêre nooddienste het boonop die stormwaterstelsel met skoon water gespoel en ook die stormwaterpyp-inlaatgebied by die Grobbelaarsrivier skoongemaak,” sê hy.

• Die distriksmunisipaliteit het in 2014 en weer verlede jaar op navraag van Die Hoorn aangedui dat die stank en besoedeling in die rivier veroorsaak word deur riool- en waswater vanaf die SANW en dat die SANW daarvan bewus is.