Deur Liesel le Roux
TWEE raadslede van opposisiepartye in Oudtshoorn het ’n mosie van wantroue teen die speaker, Julia le Roux (DA), ingedien.
Die wantrouemosie sal by die volgende maandelikse raadsvergadering op die dorp voor die raad dien en tot stemming gebring word.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het by die Februarie-raadsvergadering verlede Donderdag aangedui dat die mosie, ingedien deur raadslede Gaven Juthe (Sarco) en Vlancio Donson (Icosa), saam met ’n ander mosie van hulle by die volgende raadsvergadering sal dien.
Die ander mosie bevat na verneem word verskeie vrae, onder meer oor sekere funksies wat deur die raad gereël is. Juthe en Donson is al geruime tyd ontevrede omdat die mosie met vrae, wat verlede jaar al deur hulle ingedien is, nog nie by ’n raadsvergadering bespreek is nie.