Samewerking bring nog Bome van Hoop na Oudtshoorn

Kol Diamond Madie, bevelvoerder van die Infanterieskool op Oudtshoorn, en Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het verlede Vrydag albei bome geplant tydens ’n boomplantseremonie in Parkweg. Foto: Liesel le Roux

DIE Bome van Hoop-inisiatief van die Oudtshoorn Besigheidskamer het Vrydagoggend (4 September) ’n hupstoot gekry met die plant van 50 soetdoringbome (Acacia karroo) deur die Oudtshoorn Infanterieskool – 30 daarvan langs Parkweg en 20 binne hul eie terrein. Die Infanterieskool sal ook na die bome omsien.

Dié Bome van Hoop-inisiatief is twee jaar gelede geloods met die visie om 100 000 bome oor die volgende jare op Oudtshoorn te plant, een vir elke inwoner. Al die bome wat geplant word, word op ’n register geplaas en het iemand wat daarna omsien.

Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het gesê dié bome wat geplant word, is ’n simbool van hoop en oor geloof in die toekoms.

“Die belangrikste ding in tye waarin ons leef, is om hoop te hê vir die toekoms. Hierdie projek bring hoop. As jy ’n boom plant, doen jy dit nie vir vandag nie, maar vir die toekoms. Deur bome op Oudtshoorn te plant, sê ons dat ons hoop en geloof het in die toekoms van Oudtshoorn.”

Hy het die Infanterieskool geloof omdat hulle betrokke geraak het by ’n projek wat Oudtshoorn wil verfraai. “Dit is ’n voorrreg om hier saam met die Infanterieskool te staan. Dankie dat u die visie deel en u verbind het om na die bome om te sien.”

Kol Diamond Madie, bevelvoerder van die Infanterieskool, het aan Die Hoorn gesê hy steun samewerking tussen rolspelers op die dorp omdat dit tot voordeel van al die inwoners en die dorp sal wees. (Deur Liesel le Roux)