Kommer oor Covid in Oudtshoorn

Oudtshoorn het tans die meeste aktiewe Covid-19-gevalle in die Tuinroete en die meeste aantal aktiewe gevalle per 100 000 mense in die Wes-Kaap. Grafiek: Heinrich Bosman

OUDTSHOORN het gister (Woensdag 9 September) volgens die Wes-Kaapse Departement Ge­sond­heid se dashboard die meeste aantal aktiewe Covid-19-gevalle per 100 000 mense in die hele Wes-Kaap gehad, naamlik 201 per 100 000 mense.

Die getalle Woensdag op die twee grootste dorpe in die Tuinroete-distrik, George en Mosselbaai was onderskeidelik 68,1 per 100 000 mense en 82,9 per 100 000 mense.

Anders as op Oudtshoorn is daar tans ’n daling in die gevalle in die res van die Tuinroete-distrik.

Oudtshoorn het nou die tweede hoogste sterftesyfer in die Tuinroete (76), naas George wat tans op 107 sterftes staan.

Teen Woensdag was daar reeds 1 287 bevestigde gevalle in Oudtshoorn met 189 daarvan aktief en 1 022 mense wat herstel het.

In Kannaland was daar Woensdag 112 bevestigde gevalle, met 2 daarvan aktief en 109 mense wat herstel het. Daar was nog net een sterfte.

In Prins Albert was die aantal bevestigde gevalle Woensdag 24, met ses aktief en 18 wat herstel het. Daar was nog geen sterftes op die dorp nie.
Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het verlede week ’n waarskuwing aan inwo­ners gerig om nie voorsorgmaatreëls teen Covid-19 te verslap nie.

“Covid-19 is nie verby nie. Ons wil inwoners aanmoedig om elke voorkomende stap moontlik te neem om die verspreiding daarvan te voorkom.

“Covid-19 het ’n onvoorsiene uitdaging gebring en ons vermoë om dit aan te spreek, sal ons toekoms bepaal.”

Macpherson het ’n beroep op inwoners gedoen om ook verantwoordelik te wees met die gebruik van alkohol, die handhawing van sosiale afstand en wanneer groepe vergader.

“Ek wil ook elkeen bedank wat uitgereik het om ’n mede-inwoner in nood te help, asook almal wat bydra tot ons almal se veiligheid deur ’n masker te dra en sosiale afstand te hou.”

Adele Supra-Vertue, hoof van Oudtshoorn se rampbestuursafdeling, sê dit is kommerwekkend dat inwoners nie Covid-19-regulasies nakom nie, en dat dit vererger sedert Vlak 2 ingestel is.

“Mense loop sonder maskers rond en ignoreer die handhawing van sosiale afstand.

“Ons grootste kommer is dat mense te lank wag voordat hulle mediese hulp soek en ’n stadium van die siekte bereik waar hulle gehospitaliseer moet word. Vir party is dit dan te laat.”

• Al klink Oudtshoorn se syfers hoog, sê Ferreira dat die Departement Gesonheid optimisties is oor die Covid-19-situasie in die Tuinroete. “In die distrik as ’n geheel ondervind ons dat die kurwe van aktiewe gevalle besig is om af te plat en so ook hospitaal-opnames en sterftes. Sommige sub-distrikte se syfers is beter as ander, maar wanneer ons die statistieke vergelyk met ’n maand gelede se syfers, blyk dit daaruit dat ons oor die piek is,” sê sy. (Deur Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)