Burgemeester Macpherson in isolasie

Chris Macpherson.

DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, is tans in isolasie nadat hy positief vir Covid-19 getoets het.

Macpherson het sy dokter Vrydag besoek en daarna ’n Covid-19-toets laat doen.

“Ek het myself onmiddellik in kwarantyn geplaas, en is vandag in kennis
gestel dat ek positief getoets het. Ek sal vir die voorgeskrewe tydperk in isolasie bly,” het hy Sondag gesê.

“Ek wil ’n beroep op almal doen om voorkomende maatreëls te tref. Ek het reeds diegene met wie ek in nabye kontak was, persoonlik ingelig.”
Macpherson sê sy simptome is matig.

Hy het ook ’n beroep op inwoners gedoen om die drie basiese reëls vir beveiliging na te kom, naamlik die handhawing van sosiale afstand, was van hande en die dra van maskers.

“Ek sal my bes doen om virtueel kontak te hou met my kollegas, kantoor en die inwoners van die dorp. Ek hoop en bid dat julle almal gesond is en glo dat ons oor die nodige toewyding beskik om die virus te oorwin.”

Kannaland-burgemeester uit hospitaal ontslaan
Intussen is die burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry (70), uit die Mediclinic George ontslaan nadat sy in Julie met Covid-19 gediagnoseer en in die waaksaal opgeneem is. Sy ontvang egter nog behandeling na haar lang siekbed.

Die onderburgemeester van Kannaland, Phillipus Antonie, sê almal is baie dankbaar oor Barry se herstel tot dusver.

“Dit is wonderbaarlik dat sy reeds in so ’n mate herstel het, veral as ’n mens sien hoe baie jonger mense nie die virus oorleef het nie.” (Deur Liesel le Roux)