Nou wil Oudtshoorn dans!

Personeel van die Oudtshoorn Hospitaal het verlede Vrydag die Jerusalema-dansuitdaging aangepak - om vrolikheid en positiwiteit te bring te midde van die uitdagings van Covid-19 aan mediese personeel, pasiënte en inwoners. Personeel uit verskillende departemente het voor die ongevalle-eenheid se deure gedans. Foto: Stefan Skapie Goosen

DAAR is groot opwinding op Oudtshoorn vir wat vir Saterdag 26 September beplan word. Daar is diegene wat klaar litte losmaak, ander wat hul dansskoene afstof én diegene met twee linkervoete wat reeds hard in die veiligheid van hul slaapkamers oefen…

Vir diegene wat nog nie gehoor het nie: Oudtshoorn skud sy vere reg om die Jerusalema-dansuitdaging aan te pak!

Mense wêreldwyd dans tans op die maat van Suid-Afrika se Master KG se Jerusalema. Kliek jy op sosiale media vind jy gou ’n video van iemand wat dié danspassies uitvoer.

Die Oudtshoorniet Ingrid Noble sê sy wil dié dans na die dorp se strate bring, maar op ’n baie groot skaal. “Ek het die afgelope maande gesien hoe die gemeenskap van Oudtshoorn moed verloor tydens die Covid-19-inperking. Die dorp se mense het so negatief geword, en ons moes ook van mekaar onttrek weens die Covid-regulasies, maar nou is dit tyd om weer saam te staan. Ek wil iets positief doen om eenheid in die gemeenskap te bring en gemoedere op te kikker,” sê sy.

Ingrid hoop om op 26 September meer as 2 000 inwoners uit die Klein Karoo in Baron van Reedestraat te laat dans en so Plettenbergbaai se “wêreldrekord” van byna 1 000 deelnemers te oorskry.

“Ons gaan egter die week uitmeet hoe­veel mense in die spasie sal kan inpas, en sal nie die syfer oorskry nie.”

Sy sê sy het reeds gesprek gevoer met burgemeester Chris Macpherson en is ook betrokke by verdere gesprekke met verteenwoordigers van die munisipaliteit.

“Hierdie kan iets groot wees, en baie vir die dorp beteken,” sê sy.
Ingrid wil hê soveel inwoners moontlik van Oudtshoorn, De Rust, Calitzdorp, Ladismith, Dysselsdorp en Prins Albert moet saam kom dans.

Diegene wat nie die danspassies ken nie, kan op 11, 15 en 19 September op die oop terrein op die hoek van Baron van Reedestraat en Voor­trek­ker­weg, langs die CP Nel Museum, kom oefen – op 11 en 15 September tussen 16:00 en 17:00; en op 19 September tussen 14:00 en 15:00.

Die dra van maskers en handha­wing van sosiale afstand sal by oefeninge en op 26 September streng toegepas word. (Deur Stefan Skapie Goosen)