Saak teen onderwyser uitgestel

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n voormalige onderwyser van ’n skool op Oudtshoorn wat teregstaan op twee seks-verwante aanklagte is verlede week in die landdroshof voortgesit met die klaer wat steeds onder kruisverhoor is.

Eugene Hufke (48) het na bewering tussen Julie en September 2017 ’n 18-jarige leerder seksueel probeer skend en op 11 September 2017 wel seksueel geskend.

Hy ontken skuld op albei aanklagte.

Hufke se regsverteenwoodiger, adv Stephen Lourens, het dit aan die klaer gestel dat haar ge­tuienis onder kruisverhoor verskil van haar getuie-nis oor die hoof. Sy het glo getuig dat sy alles wat die betrokke dag in die klaskamer van die beskuldigde gebeur het, aan die hoof oorgedra het.

Onder kruisverhoor het inligting egter aan die lig gekom wat volgens Lourens nie in die hoof se verklarings verskyn nie.

Oor die klaer se getuienis dat die beskuldigde sy tong in haar keel gesteek en haar gesoen het wou Lourens weet waarom sy nie sy tong gebyt, geskreeu of haarself verdedig het nie.

Sy het hierop, in trane, geantwoord dat sy nie daaraan gedink het nie en te geskok was.

Die saak word deur landdros Theolin November aangehoor en is vir verdere getuienis uitgestel tot 28 Augustus 2019. Hufke se borgtog en borgvoorwaardes is tot dan verleng.