Pastoor aangekla van verkragting

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n pastoor van Dysselsdorp wat teregstaan op drie aanklagte van verkragting is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir voortsetting uitgestel omdat hy ’n nuwe regsverteen­woordiger aangestel het.

Freddy Jaftha (48) word daarvan aangekla dat hy by drie geleenthede in 2017 en 2018 seksuele dade met ’n 18-jarige tweeling gepleeg het.

Hy pleit onskuldig en die saak is verlede week na die getuienis van die klaers in camera deur streeklanddros Daniel Boks vir verdere getuienis tot Dinsdag uitgestel. Die hof is egter deur die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, ingelig dat die beskuldigde van regsverteenwoordiger verander het en hy voortaan deur adv Stephen Lourens verdedig sal word.

’n Versoek van Lourens, in opdrag van DKJ Prokureurs, om na die bande van die verhoor tot dusver te luister en afskrifte van die dossier te bekom, is deur die landdros toegestaan en die saak is tot 26 Augustus verdaag.

Jaftha se borgtog van R1 000 is saam met sy borgvoorwaardes tot dan verleng.