Rower met byl kry 7 jaar

’N MAN van Oudtshoorn wat op 13 Maart ’n ander Oudtshoorniet helder oordag met ’n byl gedreig het, is verlede week aan roof met verswarende omstandighede en diefstal vanuit ’n motorvoertuig skuldig bevind, en vir sewe jaar tronk toe gestuur.

Die hof het bevind Julio Thomas (28) het Hilmar Stefanus in Dassieweg, Bridgton, met ’n byl gedreig en van sy selfoon beroof, en ook op 16 Mei 2020 ’n CD-speler uit die motor van Ruduaan Hooghard gesteel.

’n Derde klagte van huisbraak, diefstal en roof met verswarende omstandighede is deur die staat teruggetrek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Thomas se optrede getuig van “absolute wetteloosheid en barbaarsheid” en dat hy nie ’n sweempie van berou toon nie. Volgens die landdros is dit onaanvaarbaar dat iemand helder oordag en ten aanskoue van lede van die publiek in ’n besige pad beroof word.

Stefanus het gelukkig daarin geslaag om die byl by Thomas af te neem en hom daarmee skrikgemaak waarna Thomas weggehardloop het.

“Hierdie hof kan nie toelaat dat Oudtshoorn se openbare strate in jagvelde van gewetenlose boewe ontaard nie. Die klaer moes homself verdedig en is gelukkig nie beseer nie, maar dit beteken nie dat die beskuldigde ligter gevonnis moet word nie.”

Hy het egter met die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, saamgestem dat daar omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar. Die hof het onder meer in ag geneem die klaer is nie beseer is nie.

Thomas is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)