DIE Oudtshoorn Rotariërs se krismisprojek skop weer vanjaar af, waar hul skoenbokse pragtig toedraai en versier met geskenke binne-in en aan minderbevooregte voorskoolse kinders uitdeel.
Verlede jaar het hul sowat 650 krismisbokse uitgedeel aan meer as 20 kleuterskole in die Klein Karoo areas, soos De Rust, Dysselsdorp en Oudtshoorn.
“Elke boks word met liefde gepak en het die volgende items in. ’n Tandeborsel en tandepasta, waslap en seep, inkleurboek, vetkryte of inkleurpotlode, ’n tennisbal of soortgelyke bal en ’n pakkie jellielekkers.” vertel Lézelma Pretorius, een van die projekkoördineerders aan Die Hoorn.
Persone kan ’n boks pak, of van die items skenk of selfs geld in die Rotariërs se krismisboksprojek se rekening inbetaal, wat dan aangewend word om die items te koop. Hulle daag ook besighede, hoër- en laerskole en ander instansies uit om deel te wees van hierdie projek.
Soos in die verlede, werk hul ook saam met die wonderlike dames van die ReWolusie projek, en word daar ook beertjies gehekel of gebrei wat saam met die bokse uitgedeel word. Wol en stopsel is beskikbaar by die KKNK kantoor en die dames gaan Vrydag 20 Oktober om 10:00 bymekaar kom vir persone wat belangstel.
“Dis wonderlik om te sien hoeveel hekel en brei groepe daar is in die gemeenskap en hoe elkeen elke jaar bydra om sowat 4 500 kleuters se hartjies bly te maak wanneer hulle nie net die krismisbokse ontvang nie, maar ook die teddiebeertjies.” sê sy.
Lede van die publiek wat betrokke wil raak kan kontak maak met Pretorius by 084 582 3514 of Dalia Wilck 084 620 0977.
Enige instansies wat soortgelyke projekte aanpak vir Kersfees kan met vrymoedigheid met Die Hoorn kontak maak. Die koerant sal graag ’n gids wil plaas waar elke projek gelys is, en die kontakpersone se naam en nommers beskikbaar is.
Rotariërs krismisboksprojek skop af
Kinders wys hulle pragtige handgemaakte beertjies wat tydens die Krismisboksprojek uitgedeel is.
Foto verskaf