DIE saak teen Patrick Rondganger (36) wat van moord op sy meisie se pa aangekla word is in die Oudtshoorn streekhof vir voorverhoor tot 23 November uitgestel nadat hy regshulp gekry het.
Dit volg op die onttrekking van sy regsverteenwoordiger, Bradley Machaels, met sy vorige verskyning, en hy die hof toe meegedeel het dat hy sy eie regsverteenwoordiger sou aanstel.
Hy het erg verward in die beskuldigde bank voorgekom en die hof meegedeel dat hy tyd nodig het om met sy familie te praat vir die aanstelling van ’n ander regsverteenwoordiger.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Rondganger gewaarsku dat hy besig is om speletjies te speel en die verhoor sal voortgaan indien hy nie op 1 November ’n nuwe regsman aangestel het nie.
Alles volg nadat die staat nie die voorgestelde vonnis in ’n moontlike pleitooreenkoms wou aanvaar nie.
Rondganger word daarvan aangekla dat hy in April 2022 die sestigjarige Eric Xaxaka van Bongolethu vermoor en sy lyk in ’n vlak graf onder twee yskaste begrawe het. Hy het daarna glo saam met familie van die oorledene en die polisie na die vermiste Xaxaka gesoek en later ’n bekentenis gemaak. (Deur Garnett Wicomb)
Rondganger kry regshulp
