’N Man wat probeer het om sy gewese meise te verkrag is Donderdag in die Oudtshoorn streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat hy aan poging om te verkrag skuldig bevind is.
Die klaagster het getuig dat sy die betrokke dag saam met Patrick Roman met wie sy voorheen in ’n verhouding was, na sy blyplek gegaan het om net die simkaart van haar selfoon te gaan haal.
Hy het haar egter vasgegryp en op ’n bed neergegooi en haar ontklee.
Toe hy poog om haar te verkrag en sy hom gewaarsku het dat sy na die polisie sou gaan, het hy gestop.
Roman het onskuldig gepleit maar sy getuienis is deur die hof verwerp.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde was nie openlik met die hof nie en het sy verweer tydens kruisondervraging verander. Hy het die klaer ongeag haar gevoel teenoor hom en die feit dat hulle nie meer in ’n verhouding is nie verneder, en toon ook geen berou nie.
Die klaer het drie keer geroep na ’n buurvrou om haar kêrel te stuur om haar te kom help.
Die landdros het ten slotte dit aan Roman gestel dat hy gelukkig is dat die nuwe minimum vonnis vir die misdaad waaraan hy skuldig bevind is, nie op die klagstaat aangetoon word nie. (Deur Garnett Wicomb)