Man van Dysselsdorp skuldig aanstrafbare manslag

Foto: Hoorn Argief

’n Man (42) van Dysselsdorp wat op 17 Junie 2022 ’n ongeluk op die Calitzdorp-pad veroorsaak het en wat tot die dood van ’n pa en sy seun gelei het, is in die Oudtshoorn streekhof op twee klagtes van strafbare manslag en een van nalatige bestuur skuldig bevind.

Ivan Lewis het in ’n pleitverduideliking erken dat hy die betrokke dag nalatig bestuur en die dood van die 44-jarige Casper Oberholzer en sy elfjarige seuntjie, Petrus Oberholzer, van Calitzdorp veroorsaak het. Hy was die bestuurder van sy werkgewer se Toyota Hilux bakkie en het teen ’n spoed van sowat 100 km/u gery.

Lewis sê in sy pleitverduideliking wat deur die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, aanvaar is, dat hy hom misgis het met die spoed van ’n voertuig voor hom en dit getref het.

Hy het daarna na regs geswaai en kop teen kop met die voertuig van die Oberholzer-gesin gebots.

Lizette Oberholzer en hul oudste seun, Casper jnr (16), het die ongeluk oorleef.

Die familie het die vorige dag ’n familiebegrafnis bygewoon op Riversdal, en is oorspronklik van Zambië.

Streeklanddros Ntsoki Moni het vonnisoplegging tot 29 November uitgestel nadat sy borgtog van eenduisend rand aan Lewis toegestaan het. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Man van Dysselsdorp skuldig aanstrafbare manslag"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*