DIE aansoek van ’n man van Klaarstroom, wat vyftien jaar tronkstraf vir moord opgelê is, om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer, is in die Oudtshoorn streekhof van die hand gewys.
Die 28-jarige Lucano De Wee het op 12 Maart 2022 vir Freek Jantjies (28) met ’n mes in die nek gesteek en hy is die volgende dag in ’n hospitaal op George oorlede.
De Wee het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy homself verdedig het, maar sy getuienis is deur streeklanddros Sylvia Mandla verwerp. Hy het in sy aansoek om verlof om te appelleer aangevoer dat die hof fouteer het met sy skuldigbevinding.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die aansoek teengestaan.
Volgens die landdros het De Wee nie die hof oortuig dat daar enige moontlikheid is vir sukses in die appèlhof nie, en die aansoek geweier.
Moordenaar se aansoek om appèl geweier
