Gholfstokslaner kry opgeskorte vonnis

’N Man van Oudtshoorn wat iemand wat hy van diefstal van sy wasgoed verdink het, en hom met ’n gholfstok oor sy kop geslaan het, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof ’n boete van R60 000 of drie jaar gevangenisstraf opgelê, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Voorts is hy ook gelas om sy slagoffer se mediese kostes van R24 000 te betaal.

Die 38-jarige Selby Plum het aanvanklik onskuldig gepleit op die klagte van poging tot moord, maar wel skuldig aan die alternatiewe klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, was vanweë die ernstige aanranding van die klaer nie te vinde vir Plum se pleit ten opsigte van aanranding met die opset om ernstig te beseer nie.

Volgens Plum het hy op 17 September 2021 vir Leonardo Bezuidenhoudt wat glo sy wasgoed van die wasgoedlyn gesteel het, raakgeloop en daaroor gekonfronteer.

Nadat die klaer gedreig het om hom met ’n klip te gooi en hy gevrees het dat hy die kind wat by hom was sou raakgooi, is hy huis toe om ’n gholfstok te gaan haal.

Hy het Bezuidenhoudt toe drie keer oor sy kop geslaan. Hy het bloed gesien en besef dat dit ernstige beserings was maar huis toe gery.

Volgens hom was dit nie sy bedoeling om die klaer dood te slaan nie, maar net seer te maak. Hy is jammer daaroor en sal sy straf aanvaar.

Behalwe die opgeskorte vonnis is Plum gelas om Bezuidenhout se mediese kostes van R24 000 in paaiemente te betaal.

Streeklanddros Ntsoki Moni het gelas dat hy op 16 November die eerste paaiement van R1 000 betaal en daarna R2 400 per maand totdat die volle bedrag vereffen is.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Gholfstokslaner kry opgeskorte vonnis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*