DIE verhoor van nege verdagtes, die meeste buitelanders, wat aangekla word van gewapende roof en menseroof by die SWD Groentemark op Oudtshoorn, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof tot groot ontsteltenis van die beskuldigdes tot volgende jaar uitgestel.
Tien verdagtes het glo op 19 Oktober 2021 die eienaars en werknemers van die onderneming met vuurwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 kontant en vyf selfone beroof. Een van hulle het intussen in die tronk gesterf.
Die nege verdagtes staan tereg op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede en agt van menseroof. Hulle pleit almal onskuldig.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof meegedeel dat landdros Koeries van Mosselbaai wat aangestel is om die saak aan te hoor, as gevolg van sy eie vol program, nie voor 5 Mei 2024 beskikbaar is nie.
Brian Carelse van die regshulpraad verskyn vir die verdagtes wat almal in aanhouding bly. (Deur Garnett Wicomb)
Groentemark roofsaak uitgestel tot 2024
