Brian Finch soos mense hom geken het. Foto verskaf
Deur Marlene Malan
DIE Suid-Afrikaanse rocklegende Brian Finch (72) van Prins Albert het verlede naweek die stryd teen kanker verloor. Die siekte is in Mei verlede jaar by hom gediagnoseer.
Ondanks ’n moedige geveg, wat operasies en chemoterapie ingesluit het, het sy vrou, Marion, en hul kinders, Reno en Tanya, hom Sondagmiddag in hul huis op die dorp gegroet.
Sowat twee weke gelede het Marion, wat ook as Brian se bestuurder opgetree het, op haar man se Facebook-blad gesê dat hy nie “meer kommunikeer nie”. Sy het sy vriende en kennisse die afgelope jaar op dié blad oor Brian se vordering, en uiteindelike agteruitgang, ingelig gehou.
Sedertdien het huldeblyke van regoor Suid-Afrika ingestroom – veral ook van Prins Alberters, want hulle het Brian leer ken as iemand wat altyd bereid was om in die plaaslike teater, The Showroom, en selfs by tuisgeleenthede op te tree.
Hy was ’n vriendelike, innemende mens wat saamgekuier het waar daar ook al ’n geleentheid was, en altyd ’n vriendelike woord vir almal te sê gehad het. Die vreugde wat musiek bring, was die spil waarom sy lewe gedraai het.
Brian, ’n buitengewoon talentvolle sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer, was sedert 1969 ’n bekende in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, met dertien plate en CD’s agter sy naam. Sy musiekstyl is country-rock en hy het tot met die diagnose van sy siekte dwarsoor Suid-Afrika en in Namibië getoer. Van sy mees onlangse CD’s is The Classic, wat in 2017 uitgereik is en wat sestien uitgesoekte liedjies uit sy loopbaan bevat, en Living for Yesterday – liedjies oor sy daaglikse belewenisse, sy ervarings en die dinge wat vir gewone mense saak maak.