Die regering het sy waardering uitgespreek teenoor Suid-Afrikaners wat Dinsdag 30 Junie hul grondwetlike reg op vreedsame betoging verantwoordelik uitgeoefen het tydens optogte oor onwettige immigrasie en migrasie.
Volgens die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) weerspieël die oorwegend vreedsame verloop van die optogte die krag van Suid-Afrika se demokrasie en wys dit dat burgers hul kommer op ’n wettige en ordelike wyse kan uitspreek.
Die regering het inwoners, gemeenskapsleiers, organiseerders, geloofsleiers, burgerlike organisasies en wetstoepassingsowerhede geloof vir hul verbintenis tot vrede, selfbeheersing en respek vir die oppergesag van die reg.
Hoewel die meeste optogte vreedsaam verloop het, het die polisie op enkele voorvalle van plundering en pogings tot plundering gereageer.
Die regering het beklemtoon dat persone wat die optogte misbruik het om misdade te pleeg, vervolg sal word.
“Die vreedsame optrede wat getoon is, weerspieël die sterkte van ons demokrasie en bewys dat Suid-Afrikaners hul bekommernisse ferm, maar wettig kan uitspreek terwyl hulle die regte en waardigheid van ander respekteer,” lui die verklaring.
Die regering het erken dat baie Suid-Afrikaners opregte kommer het oor ekonomiese geleenthede, onreëlmatige migrasie, dienslewering, grensbestuur en openbare veiligheid.
Volgens die verklaring verdien hierdie kwessies aandag en moet dit deur wettige en demokratiese prosesse aangespreek word.
Die regering het ook verwelkom dat die oorgrote meerderheid deelnemers geweld, intimidasie, plundering en beskadiging van eiendom verwerp het.
Verder is bevestig dat die regering voortgaan met die implementering van president Cyril Ramaphosa se omvattende benadering tot migrasiebestuur.
Die plan fokus onder meer op sterker toepassing van immigrasie- en arbeidswetgewing, beter grensbeheer, verbeterde migrasiestelsels en nouer samewerking met ander Afrika-lande.
Volgens die jongste syfers is 4 286 buitelandse burgers reeds gerepatrieer, terwyl nog 419 die afgelope paar dae gedeporteer is.
Die regering het inwoners terselfdertyd aangemoedig om kalm te bly, waninligting en xenofobie te verwerp en saam met wetstoepassingsowerhede te werk om veilige en samehangende gemeenskappe te bou.
Regering loof vreedsame optogte, maar waarsku teen misdaad
President Cyril
Ramaphosa.
Photo: GCIS