Betogings en die wet: Jou vrae beantwoord

Tydens die verloop van die dag het verskeie inwoners Die Hoorn genader met vrae oor die optogte wat op 30 Junie in dele van Suid-Afrika plaasgevind het en wat die wet toelaat. Die optogte het gevolg nadat verskeie organisasies die dag as ‘n nasionale dag van protes teen onwettige immigrasie aangekondig het. In aanloop tot die optogte het die regering inwoners aangemoedig om slegs op amptelike inligting staat te maak en die wet te respekteer.

Alhoewel die meeste inwoners hul dag normaal voortgesit het, het die optogte vrae laat ontstaan oor wat die wet toelaat. Kennis van jou regte en verantwoordelikhede kan help om verkeerde inligting en onnodige spanning te voorkom.

Wat mag betogers doen? Wanneer raak ‘n optog onwettig? En wie mag jou identiteitsdokument of immigrasiestatus nagaan? Dit is van die vrae wat Die Hoorn van inwoners ontvang het.

Hier is antwoorde op van die vrae:

Mag mense wettig betoog?

Ja. Die Grondwet beskerm elke persoon se reg om vreedsaam en ongewapen aan ‘n betoging, optog of petisie deel te neem.

Moet ‘n optog vooraf aangemeld word?

Ja. Organiseerders moet ingevolge die Wet op die Regulering van Byeenkomste die plaaslike owerheid vooraf in kennis stel sodat toepaslike veiligheids- en verkeersreëlings getref kan word.

Mag ‘n betoging paaie versper of mense verhinder om toegang tot openbare dienste te kry?

Nee. Die regering het benadruk dat dit onwettig is om toegang tot openbare dienste, soos hospitale, klinieke en ander staatsfasiliteite, te blokkeer.

Mag iemand jou identiteitsdokument of bewys van burgerskap eis?

Nee. Slegs bevoegde wetstoepassers mag, waar die wet dit toelaat, iemand se dokumente of immigrasiestatus nagaan. Privaat persone of groepe mag nie van lede van die publiek vereis om hul dokumente te toon nie.

Wat gebeur as ‘n betoging gewelddadig raak?

Die reg om te betoog beskerm nie geweld, intimidasie, plundering, vandalisme of die beskadiging van eiendom nie. Enige persoon wat sulke misdrywe pleeg, kan strafregtelik vervolg word.

Mag mense die wet in eie hande neem?

Nee. Die regering sê die toepassing van immigrasie- en ander wette is die verantwoordelikheid van die staat en wetstoepassingsagentskappe. Enige vorm van waaksaamheid of intimidasie is onwettig.

Wat moet jy doen as jy op ‘n optog afkom?

Bly kalm, volg die aanwysings van verkeers- of polisielede en vermy enige konfrontasie. Indien nodig, gebruik alternatiewe roetes totdat die gebied veilig is.

Hoe kan ek seker maak inligting is betroubaar?

Maak staat op amptelike inligting van die regering, die SAPD en plaaslike owerhede. Wees versigtig vir ongeverifieerde plasings, video’s en stemboodskappe wat op sosiale media versprei word.

Moet ek by die huis bly as daar gerugte van optogte is?

Nee. Tensy daar ‘n werklike veiligheidsrisiko of amptelike kennisgewing is, bly dit die werknemer se verantwoordelikheid om by die werk aan te meld. Werkgewers kan egter hul eie veiligheidsmaatreëls tref indien omstandighede dit vereis.

Wanneer hou ‘n betoging op om deur die Grondwet beskerm te word?

Die reg op betoging geld slegs vir vreedsame en ongewapende optrede. Sodra geweld, intimidasie, aanranding, plundering of beskadiging van eiendom plaasvind, is dit nie meer deur die Grondwet beskerm nie en kan strafregtelike stappe volg.

Mag ek foto’s of video’s van ‘n optog neem?

Ja, mits dit veilig gedoen word en jy nie met wetstoepassing inmeng of jouself in gevaar stel nie.

Onthou:

  • Bly kalm en moenie gerugte versprei nie.
  • Maak staat op amptelike inligting.
  • Volg die aanwysings van wetstoepassers.
  • Meld enige geweld of misdaad onmiddellik by die SAPD aan.

Terwyl die omstandighede rondom betogings van geval tot geval kan verskil, bly die beginsel dieselfde: vreedsame optrede word deur die Grondwet beskerm, terwyl geweld, intimidasie en ander onwettige optrede nie geduld word nie.

Bronne: Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika; die Wet op die Regulering van Byeenkomste (Wet 205 van 1993); verklarings van die Suid-Afrikaanse regering; en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Lees ook:

Fake immigration deadline fuels confusion

One in four Western Cape police stations unreachable in telephone audit