Raaisel om lyk in swembad by gastehuis

MEER as ’n week nadat die lyk van ’n onbekende man in die swembad van ’n gastehuis in Kerkstraat, Oudtshoorn gevind is, hang daar steeds vrae oor wat die man op die perseel gedoen het, en hoe hy in die swembad beland het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die man se liggaam op Dinsdag 1 Junie omstreeks 22:55 in die swembad gevind. Hy is op die toneel deur ambulansperso­neel dood verklaar.

“Die eienaar van die gastehuis het deur sy vens­ter gekyk en die man in die swembad gesien. Hy het die polisie en ambulansdienste onmiddellik ontbied,” het Visser gesê.

Volgens Visser doen die polisie tans ’n geregtelike doodsondersoek.

Die man se identiteit was gister nog nie bekend nie. Visser het ook gesê dat daar tans geen aanduiding is oor hoe die die man in die swembad beland het nie omdat die lykskouingsverslag nog nie beskikbaar is nie.

Die eienaar van die gastehuis, wat gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, wou vandeesweek nie kommentaar oor die insident lewer nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Raaisel om lyk in swembad by gastehuis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*