
Raadslede Gaven Juthe (links), Vlancio Donson en Diswayne Maarman (in rooi) het vanoggend talle vrae by die raadsvergadering gehad. Foto: Liesel le Roux
Die maandelikse vergadering van die Oudtshoorn-raad waarby onder meer besluite geneem moes word oor die Blossoms-projek en verskeie ander sake, moes vanoggend verdaag word nadat ‘n groep woedende vroue vanuit die openbare gallery begin skree en onder meer raadslede en munisipale amptenare begin dreig het. Dit was tydens hul oproer onmoontlik om die verrigtinge in die raadsaal te volg.
Ëk gaan jou donner! Ek donner jou”!”het een van die vroue vir die munisipale bestuurder, Allen Paulse, geskree nadat sy tydens ‘n aanvanklike tydelike verdaging van die vergadering tot teen hom geloop het, terwyl ‘n ander vrou herhaaldelik luidkeels haar woede teen raadslid George Kersop te kenne gegee het. Die vroue is oor verskeie sake ontevrede en sou na verneem word in elk geval na afloop van die vergadering daaroor met Paulse vergader.
Die vergadering het van die aanvang gesukkel om op dreef te kom en punte op die agenda af te handel met verskeie vrae oor die prosedure van die bespreking van raadsake wat deur die raadslede van die drie minderheidspartye in die raad, Gaven Juthe (Sarco), Vlancio Donson (Icosa) en Diswayne Maarman (EFF), geopper is.
Toe die speaker, Julia le Roux, in ‘n stadium die publiek in die gallery gevra het om stil te bly, het pandemonium egter uitgebars.
Die vergadering sal na verwagting Woensdag verder plaasvind.
(Liesel le Roux)