Raad stuur munisipale bestuurder met verlof

DIE munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, Allen Paulse, is verlede Vrydag by ’n spesiale raads­vergadering eenparig deur die raad vir drie maande met spesiale verlof gestuur.

Dit beteken dat al die partye in die raad die besluit oor Paulse gesteun het.
Paulse sal ingevolge die raadsbesluit sy volle betaling kry terwyl klagtes teen hom gedurende dié drie maande ondersoek word.

Die direkteur Korporatiewe Dienste, Reginald Smit, neem tans as munisipale bestuurder waar.

Daar was na verneem word verdeeldheid onder DA-raadslede toe die voorstel oor Paulse voor die vergadering deur die DA-koukus bespreek is.

Drie DA-raadslede, Johan Fourie, George Kersop en Julia le Roux, het nie dié optrede teen Paulse onder­steun nie nie.

Tugverhoor van burgemeester
Daar is intussen die week klaarblyklik goeie vordering gemaak met die DA se tugverhoor van die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester.

Dié tugverhoor, waarvan die klagstaat teen Sylvester nie openbaar gemaak is nie, is Maandag op die dorp hervat nadat dit nie tydens die aanvanklike datums – tussen 20 en 24 Januarie 2010 – voltooi is nie.

Volgens Alan McLoughlin, een van die DA se twee komitee-assistente betrokke by die tugverhoor, is die eerste deel van die proses waartydens verskeie persone getuig het, Dinsdagaand vroeg afgehandel.

Hy sê die partye betrokke by die tugverhoor moet nou hul geskrewe betoogshoofde teen 2 Maart aan die paneel voorlê.

Die paneel sal daarna ’n besluit neem. Dit is egter nie bekend wanneer ’n uitslag van die tugverhoor bekend sal wees nie. (Deur Liesel le Roux)