DIE eerste maand van die nuwe jaar is skaars verby en Mornay Thysse van die Oudtshoorn Brandweer het reeds 18 slangoproepe gehad en 14 slange gevang.
Dit sluit in ses boom-, drie bruinhuis-, twee Karoo-sandslange, een kobra, een pofadder en een Delalande’s se blinde slang gevang.
Hoewel daar in 2019 meestal Kaapse kobras gevang en weer vrygelaat is, is daar meer boomslange in Januarie gevang as enige ander spesie, het Thysse gesê.
“Wat dit nog meer interessant maak, is die feit dat daar meer mannetjie-boomslange as wyfies gevang is,” sê hy.
Die meeste slangoproepe het uit Wesbank gekom, ’n woongebied wat aan ’n groot stuk veld grens.
“Die huise waar ek die boomslange gevang het, het almal leiwatervore wat deur die erwe loop en die tuine is baie boomryk, wat natuurlik dié slange se natuurlike habitat is.”
Volgens die African Snake Bite Institution se webtuiste, www.africansnakebiteinstitute.com, kom boomslange nie noodwendig net in bome voor nie en verlaat hulle soms die hoë takke om op die grond in die son te bak.
Slange is koudbloedig en kan dus nie hul temperatuur reguleer nie, en het daarom die son nodig om warm te word.
Dit is natuurlik ook hoekom hul deur die koue wintermaande minder aktief is.
Thysse sê die boomslang is onder die vyf giftigste slange in Suid-Afrika.
“Boomslange se gif is hemotoksies wat die rooibloedselle vernietig en die bloedstolling ontwrig, terwyl dit ook orgaandegenerasie en algemene weefselskade veroorsaak.
“Hoewel daar teengif beskikbaar is, is dit nie algemeen beskikbaar in ons area nie en dit sal moontlik ingevlieg moet word vanaf Pretoria, sê Thysse.
Die webtuiste meld ook dat daar ’n wanopvatting is dat boomslange nie groot liggaamsdele kan byt nie, omdat hul tande dieper in hul bekke sit.
Dit is egter nie waar nie. Die slange kan hul bekke wyd ooprek en dus enige deel van die liggaam byt.
’n Byt deur boomslange is egter nie baie algemeen nie, veral nie as hulle in bome is nie.
Hul kleur verskil van gebied tot gebied, met jonger slange wat grys voorkom, met groot smaraggroen oë.
Die wyfies is bruin, terwyl die volwasse mannetjies verskeie skakerings van donker- tot liggroen kan wees.
“Mense wat ’n slang in ’n boom opmerk, moet steeds versigtig wees en dadelik die brandweer skakel,” sê Thysse.
Van Januarie 2019 tot Desember 2019 het Thysse nie minder nie as 112 slange in die Oudtshoorn-omgewing gevang en weer vrygelaat.
Besoek gerus Thysse se Facebook-blad, Klein Karoo Snakes vir gereelde plasings wanneer Thysse slange vang, sowel as baie interessante inligting en praktiese wenke. (Deur Angelique Erasmus)