Ons probeer kalm bly, sê Oudtshoorniete in China

VERLATE strate sonder mense. Stede wat ge­sluit word vir enige verkeer van buite of na buite die stad. Geen open­bare vervoer nie. En geen tree buite jou blyplek sonder ’n masker op jou gesig nie.

Dit is tans die leefwêreld van verskeie inwoners van die Klein en Groot Karoo wat in stede in China, waar die Koronavirus uitgebreek het, woon en werk.

Dié virus het hul lewens handomkeer verander, vertel Candice Swigelaar wat saam met haar man Stephen en hul twee seuns, Nicolas (11) en Skylar (7), in die stad Dangtu sowat 600 km van Wuhan (waar die virus uitgebreek het) woon.

“Dangtu waar ons bly, lyk regtig soos ’n spookstad. Daar is bittermin mense buite,” sê sy.

Wanneer hulle uitgaan, dra almal maskers. Almal se temperatuur word ook by openbare plekke gemeet voordat hulle daar mag ingaan.

Die Swigelaars het in 2018 na China verhuis waar Stephen voltyds skoolhou, terwyl Candice deeltyds skoolhou en hul twee seuns tuis onderrig. Stephen was voorheen ’n grafiese kunstenaar in Oudtshoorn en George, terwyl Candice in die hotelbedryf op Oudtshoorn gewerk het.

Candice sê hulle was nog onbewus van die gevaar van die virus toe hulle in Januarie vir die Chinese Nuwejaar by haar suster en haar man, Cassandra en Maurice Gelderbloem, in die stad Qingdao gaan kuier het.

Die Gelderbloems is ook Oudtshoorniete wat in September 2019 met hul eenjarige seuntjie, Mason, na China verhuis het. Maurice was ad­mini­stratiewe bestuurder by die KKNK.

Die Swigelaars se familievakansie is egter deur die uitbreek van die Koronavirus kortgeknip.

Candice vertel: “Terwyl ons daar gekuier het, het alles erger geword. Ons skool het ons laat weet ons moet onmiddellik huis toe kom, of in Qingdao bly tot dinge beter word.

“Omdat ons troeteldiere het wat in kennels was en die seuns se skoolwerk nie kon agter raak nie, het ons begin soek vir vlugte huis toe.

“Ons het so gesukkel, want ons vlugte is drie keer gekanselleer. Ons was paniekerig, maar het besluit om ons goed kalm in te pak en ’n Didi (vervoer soos ’n Uber) gekry om ons lughawe toe te neem. Daar het ons met ’n gesukkel ’n vlug na ons provinsie gekry. Dit was baie stresvol om met kinders te reis. Ek het die heeltyd probeer seker maak hulle vat aan niks nie, dat hulle hul hande gereeld was en ook seker gemaak dat hulle maskers reg op is.

“Ons is net so dankbaar dat ons veilig by ons woning is. Ons kon ons diere die volgende dag gaan haal. Ons het op die World Health Organisation se webblad gelees dat ons diere darem veilig is. Ons gaan glad nie eintlik uit met ons hond nie. Hulle spuit orals goed wat nie nou veilig is vir diere nie.”

Behalwe dat hulle binne bly, lyk hul daaglikse roetine so: “Binnenshuis word oppervlaktes en vloe­re gereeld met ontsmettingsmiddels gewas. Wanneer ons buite was vir inkopies word die klere wat jy gedra het onmiddellik in die wasgoedmandjie gegooi om gewas te word.

“Die beste voorsorg wat ons tans kan tref, is om ons van ander te isoleer. Die virus kan aansteek nog voordat enige simptome wys. Ons drink daagliks vitamiene en probeer ons immuunstelsels so sterk as moontlik te hou.”

Maurice vertel dat dit vir hom en Cassandra en Mason baie frustrerend raak om so binne vasgevang te wees.

“Ons speel maar speletjies, verf of braai op ons balkon. Ons probeer maar om positief te bly en die ekstra vakansiedae saam as ’n gesin te geniet.

“In Qingdao is daar nou al 22 mense wat siek geword het met een wat genees is. Daar was ’n geval sowat 1,4 km vanaf ons woning wat die stres en paranoia by ons deur die dak laat skiet het.”

Daar is darem ook ligter oomblikke, sê Stephen.

Omdat openbare vervoer opgeskort is en hulle ver moet stap as hulle iets wil koop, het hy en Candice verlede week ’n tas met wieletjies en rugsakke gevat en gestap om kos te gaan koop.

“Ons tas was egter so swaar van die krui­de­niers­ware dat die wiele op pad gebreek het! Dit was onmoontlik om al die swaar tasse te dra, en toe bel ons die polisie om ons te kom help.

“ ’n Hele groep het opgedaag in hul swart polisie-minibus! Hulle was so vriendelik en het eintlik foto’s saam met ons geneem!” (Deur Liesel le Roux)

Stephen Swigelaar en die polisiebeamptes wat hom en sy vrou Candice te hulp gesnel het om hul inkopies by die huis te kry, in ligte luim. Foto verskaf