DIE bestuurder van ’n Volkswagen Polo het Woensdagoggend omstreeks 09:00 ’n noue ontkoming gehad toe sy voertuig sowat 15 km buite Oudshoorn op die George-pad die pad verlaat en op sy dak in die veld te lande gekom het.
Volgens inligting wat op die toneel bekom is, het die ongeluk plaasgevind terwyl drie motors agter mekaar in die rigting van Oudtshoorn gery het.
Die agterste motor, ’n Fiat-bakkie het na bewering ’n Volkswagen Polo en ’n Ford Fokus, begin verbysteek toe die bestuurder van die Volkswagen ook na regs beweeg het om die Ford Fokus verby te steek.
Die bestuurder van die Fiat bakkie het na regs uitgeswaai tot op die gruis langs die aankomende baan waar sy bakkie ’n padbord langs die pad skrams getref het.
Die Fiat het sowat 100 m verder tot stilstand gekom.
Die bestuurder van die Volkswagen het egter teruggeswaai en klaarblyklik beheer oor die motor verloor.
Die Volkswagen het bo-oor ’n heining langs die pad gerol totdat dit tot stilstand gekom het.
Noodvoertuie van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit wat op pad was Oudtshoorn toe vir ’n kursus het op die ongeluk afgekom en die bestuurder van die Volkswagen gehelp.
Die bestuurder is per ambulans na die hospitaal geneem. (Deur Angelique Erasmus)