R750 om stiefbroer te vermoor

DIE saak teen die 23-jarige Herman Redelinghuys en sy twee medebeskuldigdes wat van moord op sy stiefbroer, Jacques Liebenberg (24), aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof voorlopig tot 31 Oktober uitgestel omdat forensiese verslae nog nie ontvang is nie.

Liebenberg se liggaam is op 12 Januarie vanjaar met veelvuldige steekwonde deur polisiebeamptes van Dysselsdorp langs die Kammanassie-pad gevind waarna die drie verdagtes die volgende dag in hegtenis geneem is.

Redelinghuys het met sy borgtogaansoek die hof meegedeel dat hy onskuldig sal pleit terwyl sy twee medebeskuldigdes Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Die oorledene is volgens die ondersoekbeampte met ’n hamer geslaan en met ’n mes in die bors en nek gesteek. Die staat voer verder aan dat dit ’n beplande moord is en Redelinghuys sy twee medebeskuldigdes glo elkeen R750 belowe het. (Deur Garnett Wicomb)