R50 000 boete vir Gr 11-leerder wat beursie steel

’N Gr 11-leerder van Oudtshoorn wat ’n 64-jarige man van sy beursie met meer as R400 daarin beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof ’n boete van R50 000 of 5 jaar gevangenisstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is ook gelas om onmiddellik die klaer se geld aan hom terug te betaal.

Die 20-jarige leerder het tereg gestaan op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede waarvolgens hy tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word.

Hy het egter in sy pleitverduideliking skuldig gepleit op ’n klagte van roof gewoon en gesê dat hy net die klaer se beursie uit sy agtersak gegryp en weggehardloop het.

Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof versoek om ’n vonnis op te lê wat ’n boodskap uitstuur om ander, sowel as die beskuldigde, af te skrik.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die leerder behoorlik die leviete voorgelees en gevra om sy skoolloopbaan te voltooi en verder te gaan studeer, sodat hy eendag ’n behoorlike werk kan kry.
Sy het hom gewaarsku dat sy hom nie weer in die hof wil sien nie en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)