Shirley Wagenaar in die kombuis waar die gaskoppe en pype gesteel is. Foto: Wyndham Ewerts
Deur Wyndham Ewerts
DIE Dassieweg Voorsorgsentrum in Bridgton het verlede week die soveelste keer onder vandale en diewe deurgeloop. Sowat R10 800 se toerusting is gesteel.
Diewe het toegang tot die sentrum verkry deur diefwering van die kombuisvenster af te saag.
Volgens die skoolhoof van die sentrum, Shirley Wagenaar, is die nuutste inbraak dalk ’n verbloemde seën.
“Hoewel ons baie hartseer is, glo ek dit het ons as personeel nader as ooit aan mekaar gebring,” het sy gesê.
Die diewe het weggekom met heelwat noodsaaklike toerusting wat daagliks in die skool gebruik word, soos die ketel, vyf groot potte, twee brandblussers, gaskoppe en pype, vier gasstaanders, ’n pan, breekware, plastiekbakkies, eetgerei, koeldrankstroop en ’n sak mieliemeel.
“Ons besef dat ons sentrum in die hartjie van ’n misdaadgeteisterde gebied geleë is, en juis daarom het ons in die verlede ekstra sekuriteitsmaatreëls getref,” het Wagenaar gesê.
“Die diewe het egter nou ’n swak plek in ons mondering gevind, maar ons is vasbeslote om die sakie reg te stel.”
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die polisie ’n saak van inbraak en diefstal.
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Indien daar mense is wat die Voorsorgsentrum wil bystaan met ’n stoof, potte, eetgerei en gaskoppe kan hulle Wagenaar kontak by selfoonnommer 076 192 7738.