Prominente raadslid kry steeds nie borgtog

DIE saak teen ’n prominente raads- en burgemeestersko­miteelid van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van seksuele aanranding aangekla word, is Dinsdag in die distrikshof op die dorp tot 13 Desember uitgestel in afwagting op ’n beslissing van die direkteur van openbare vervolging (DOV) of die saak na die streekhof oorgeplaas moet word of nie.

Die 40-jarige raadslid, wie se naam nog nie gepubliseer mag word nie, omdat hy nog nie gepleit het nie, word daarvan aangekla dat hy ’n 37-jarige vroulike werknemer van die munisipaliteit in sy kantoor betas het nadat hy glo die deur gesluit en haar ’n beter pos aangebied het.

Hy is vroeër borgtog geweier nadat landdros Stephanie Strydom bevind het dat hy nie daarin geslaag het om te bewys dat dit in belang van geregtigheid is dat hy vrygelaat word nie.

Volgens die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die beskuldigde ses vorige veroordelings en is hy nou ’n derde keer in die hof op ’n klagte van ’n seksuele aard.

Die hof het ook bevind dat die beskuldigde nie borgvoorwaardes in ’n onlangse verkragtingsaak teen hom nagekom het nie, en ook nie sy same-werking aan die polisie gegee nie.

Die applikant se versoek dat borgtog aan hom toegestaan moet word omdat hy die dorp se tweede burger is, is deur die hof verwerp omdat status nie in die hof ter sprake is nie, en almal gelyk is voor die reg. Jurgen Loff van Liezel Scholtz Prokureurs verskyn namens die beskuldigde. (Deur Garnett Wicomb)