So lyk waterbeperkings in Groter Oudtshoorn

WATERBEPERKINGS is terug en Oudtshoor-niete sal weer daaraan gewoond moet raak om slegs twee keer per dag twee ure lank hul tuine te mag natgooi.

Vlak 4-waterbeperkings is verlede Woensdag met onmiddelike effek op Oudtshoorn ingestel.

Die vorige week is Vlak 6-waterbeperkings ook met onmiddellike effek in De Rust, Dysselsdorp en omliggende landelike gebiede ingestel.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het watergebruik in Oudtshoorn die afgelope maand toegeneem en beloop dit tans meer as 19 ML (megaliter) per dag.

“Die damvlak het vir ’n geruime tyd konstant gebly op net so oor die tagtig persent, maar het die afgelope weke gedaal tot onder dit. Geen reën word vir die nabye toekoms voorspel nie en die aanduidings is dat die damvlak nou drasties gaan aanhou daal met die aanvang van die warm somermaande.

Die munisipaliteit het inwoners van Oudtshoorn versoek om nie meer as 12 kl per maand te gebruik nie, en inwoners van De Rust- en Dysselsdorp om waterverbruik per maand tot 6 kl te beperk.

Op Oudtshoorn mag tuine twee maal per week tussen 06:00 en 08:00 en tussen 18:00 en 20:00 natgelei word – ewe nommers op Maandae en Donderdae, en onewe nommers op Dinsdae en Vrydae. ’n Tuinslang of sprinkelstelsel mag gebruik word.

Slegs ’n emmer water mag gebruik word om voertuie te was, en nie ’n tuinslang nie. (Deur Liesel le Roux)