Ontslag van hand gewys

Marilize Nortier

SIDNEY Berry (27), se aansoek na onslagting, is hierdie week in die Oudtshoorn distrikshof van die hand gewys.

Berry, die bestuurder van die motor, waarin die matriekleerder Marilize Nortier (18) in 2019 gesterf het, staan tereg op klagtes van strafbare manslag en versuim om hulp te verleen by ’n ongelukstoneel.

Hy pleit onskuldig.

Sy regsverteenwoordiger, Buleleani Bans, het vir onslagting gevra omdat hy van mening is dat die staat nie genoegsame getuienis voor die hof gebring het om hom aan strafbare manslag skuldig te bevind nie.

Bans sê is dit nie in geskil dat Berry die bestuurder van die ongeluksmotor was nie, en ook nie dat die 18-jarige Marilize Nortier na die ongeluk in die watersloot waarin die voertuig beland het, verdrink het nie.

Hy sê egter dat daar nie gespekuleer kan word wat onmiddelik voor die ongeluk gebeur het nie.

Die aansoek is deur, Jacolize Jordaan, staatsaanklaer teengestaan. Volgens haar het die staat ’n sterk prima facie-saak teen Berry wat tot sy moontlike skuldigbevinding kan lei.

Landdros Vaughn Shone het Jordaan gelyk gegee en beslis dat die verhoor op 13 Desember sal voortgaan.

Die staat het reeds sy saak gesluit en dit is nog onduidelik Berry geroep sal word om te getuig. (Deur Garnett Wicomb)