Daar is slegs een week oor voor die gewilde Prince Albert Leesfees plaasvind. Die fees vind vanaf Vrydag, 30 Augustus tot Sondag, 1 September 2024 plaas, by die Showroom in die pragtige dorp.
Van die land se bekendste skrywers, digters en musikante is deel van die fees wat beloof om iets vir elke smaak te bied.
Van die bekendes is PP Fourie, Jeanette Ferreira, Stefaans Coetzee, Chris Vorster, Riku Latti, Petronel Baard, Clinton V du Plessis, Sally Andrew en Sidney Gilroy.
Die trefferboek, Hans steek die Rubicon oor, van Rudi van Rensburg wat verfilm is word Vrydag vertoon.
Op Saterdagaand wag daar ’n spesiale vertoning. Die bekende plaas-like skrywer, Hannes Visser en die bekende musikant Petronel Baard het saam gewerk en twee van Hannes se gedigte is getoonset. Dit sal tydens die uurlange vertoning, Asemhaal gesing word. Visser lees ook van sy gedigte voor en vertel die gedagte se stories.
Die hele program, buiten twee items, word in die pragtige art deco-styl The Showroom aangebied. Op Saterdagoggend 31 Augustus kan besoekers vroeg uit die vere klim en na die Kritikomkoppie langs die dorp gaan vir gedigte met sonsopkoms, ’n gratis aanbieding deur digters van die dorp en elders.
Die fees sluit Sondag 1 September op ’n hoogtepunt af met die bekendstelling van die bekende skrywer, Sally Andrew, se kookboek, Recipes to die live for by Local Roots in die hoofstraat. Die gesprek met Sally gaan gepaard met ’n ete uit die kookboek.
Daar is ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar en besprekings is vooraf noodsaaklik.
Die volledige program van die leesfees is op Prince Albert Leesfees se Facebookblad beskikbaar en kaartjies kan deur Quicket bespreek word.
Vir navrae kontak Reinie of Hannes by reiniesmit@gmail.com en visserh2@gmail.com.
Moet dus nie jou kans misloop om hierdie opwindende fees en bekendes in lewende lywe te sien en te deel in die fees nie.
Prins Albert Leesfees: 30 Aug – 1 Sept 2024
