Roep die langpad met vêrafgeleë plekke dalk jou naam? Hou jy daarvan om op avonture te gaan en plekke en paaie te ontdek waar verskuilde horisonne vir jou wag?
Dan is Ompad 4×4 Adventures die perfekte groep om by aan te sluit en deel te wees van hulle een- tot vyfdag 4×4-avonture.
Johnnie Smith, die stigter van die klub, het jare se ondervinding en sorg dat bestuurders moeilike en soms uitdagende hindernisse in die pad, met gemak kan oorkom. Hy was immers die SWD Extreme 4×4-kampioen.
Met jare se kennis en ervaring, snuffel Johnnie roetes en bergpasse in en om die Klein Karoo en selfs roetes op plase met vooraf toestemming uit. Vir die roetes wat langer as ’n dag duur, is daar gerieflike oornagplekke.
Hy beplan elke reis haarfyn om die veiligheid van deelnemers te verseker. Al die voertuie is in radioverbinding met mekaar om te verseker dat “no man or woman gets left behind” soos die Engelse spreekwoord lui.
Die avonture is selfs vir diegene wat nie ervare 4×4-bestuurders is nie, want Johnnie is daar reg langs jou bakkie om te adviseer hoe elke uitdaging aangepak moet word.
Daar is geen aansluitingsfooi nie, slegs genotvolle tye wat op jou wag om saam met ander natuurliefhebbers teer-, grond- en modderpaaie aan te durf en só nuwe bestemmings in ons pragtige land te ontdek en geniet.
Besoek gerus hul Facebookbladsy Ompad 4×4 Adventures of kontak Corné Smith, Johnnie se regterhand, by 071 574 6800 vir meer inligting en hoe om aan te sluit. (Deur Angelique Erasmus)
Ompad 4×4 avonture
Die Ompad 4x4 Adventures-span gaan ge-reeld op uitstappies. Foto verskaf