Louis Botha, bekende fotograaf van Prins Albert, se derde boek word die naweek by die 8ste Prins Albert Leesfees bekend gestel. Hier is hy met sy twee vorige boeke, Karoo en Slowdown. Foto: Marlene Malan
PRINS ALBERT se 8ste Leesfees skop môre (Vrydag 1 November) op die dorp af en loop Sondag ten einde.
Vanjaar se Leesfees bied iets vir elke boekwurm se smaak. Dit skop af met twee slypskole (Die kuns van kinderboeke en Ek het ’n storie geskryf, nou wat nou?) Vrydag waarna ’n naweek propvol boekgesprekke by die Jans Rautenbach Schouwburg plaasvind.
Die eerste boekgesprek vind Vrydagaand plaas met die bekendstelling van Louis Botha, bekende fotograaf van Prins Albert, se derde boek, N/a’an ku sê. Louis en dr Rudie van Vuuren, stigter van die N/a’ankusê Stigting, ’n liefdadigheidsorganisasie vir die bewaring van die omgewing, kultuur en wildlewe van Namibië, sal in gesprek wees met bekende Suid-Afrikaanse omgewingskundige, Dave Pepler.
Saterdag en Sondag is ook volgepak met boekgesprekke.
Die eerste Leesfees in November 2012 was deel van Prins Albert se 250ste verjaardagviering, met die fokus op Karoo-skrywers en -digters. Die kompaktheid van ’n fees waar gaste elke aanbieding kon bywoon en hulle nooit van lokaal tot lokaal hoef te haas nie, was so gewild dat dié fees sedertdien jaarliks aangebied is.
Die volledige program vir die fees asook kaartjieverkope is beskikbaar by https:// princealbertleesfees.org