Preston Titus-moordsaak – verdagte weer laat

MJ January Maandagoggend diep in gesprek met sy regsverteenwoordiger, Louise Luterek. Foto: Garnett Wicomb

Magdaleen Titus gesels met haar nuwe regsman Hendrik Carstens. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb

DIE Preston Titus-moordsaak wat Maandagoggend (2 September 2019) in die rondgaande hooggeregshof op
Oudtshoorn voortgesit is, het soos by twee vorige geleenthede weer ‘n uur laat begin omdat Masithembe “MJ” January laat was. Die keer omdat sy pa Sondag in Kaapstad oorlede is.

January se regsverteenwoordiger, Louise Luterek, het die hof namens January om verskoning gevra. Die verskoning is deur regter Nolwazi Boqwana aanvaar.

Die staatsaanklaer, Adv Christénus van der Vijver, het gesê dit is heeltemal onaanvaarbaar dat January nou al vir die derde keer die hof vir langer as ’n uur ophou terwyl hy reeds lankal van die verhoordatum weet.

Die verhoor kon gister voortgesit word nadat die vermoorde soldaat se vrou, Magdaleen Titus, en haar voormalige boesemvriendin, Natashia Stuurman, regshulp bekom het.

Titus se nuwe regsman, Hendrik Carstens, het met die aanvang van hofverriginge namens haar beswaar aangeteken teen lede van die gemeenskap wat in die voorste hofbank sit terwyl ‘n reëling volgens haar glo getref is dat dit vir haar familie gereserveer is.

Sy voer aan dat sy nie kan konsentreer as gevolg van aanmerkings wat teenoor haar gemaak word nie.

Die regter het hierop gesê dat sy nie van so ‘n reëling bewus is nie en dit die hofordonnans se plig is om toe te sien dat dit nie gebeur nie. Sy het ‘n beroep op die hofgangers gedoen om almal te respekteer.

Die ondeersoekbeampte, ao Martin le Roux, het sy getuienis in die verhoor binne ‘n verhoor voortgesit oor die waarskuwingsverklaring wat hy van Justice Mooi geneem het na sy inhegtenisneming asook sy bekentenis wat voor ‘n onafhanklike senior polisieoffisier, lt kol Eric Jullies van Thembalethu, George, afgeneem is. Hy het getuig dat dit onwaar is dat Mooi deur hom of sy bevelvoerder. kapt Deon Bouwer, gedreig of beloftes aan hom gemaak is..

Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het dit aan Le Roux gestel dat die waarskuwingsverklaring gebreke bevat en nie deur die hof aanvaar kan word nie. Hy het veral beswaar aangeteken teen die feit dat die geneesheer wat Mooi ondersoek het nie ‘n J88 vorm oor beserings en dies meer ingevul het nie.

Volgens Le Roux het hy nie die betrokke aand so ‘n vorm beskikbaar gehad het nie, maar wel ‘n 308A-vorm wat gewoonlik vir beweerde dronkbestuur ingevul word. Volgens hom maak hy gewoonlik van beide vorms gebruik. Hy het toegegee dat Mooi nie al die bladsye van die dokument onderteken het nie.

Oor waarom hy nie die warskuwingsverklaring onmiddellik na hul aankoms op Oudtshoorn afgeneem het nie, het Le Roux gesê dat hy Mooi “ruskans” wou gee na die lang rit vanaf Port Elizabeth na Oudtshoorn.

Die verhoor is verdaag kort nadat Titus se regsverteenwoordiger die ondersoekbeampte begin ondervra het oor waarom hy nie ‘n waarskuwingsverklaring van Mooi in Port Elizabeth geneem het nie en ook nie onmiddellik nadat hulle op Oudtshoorn aangekom het nie. Hy wou ook weet wat gedoen is om die skootrekenaar en selfoon wat Mooi glo in sy besit gehad te probeer vind nie.