Justice Mooi. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIT is onwaar dat hy of die ondersoekbeampte beloftes gemaak het aan Justice Mooi, hom gedreig, aangerand of geïntimideer het om ‘n bekentenis te maak soos wat hy beweer. So het kapt Deon Bouwer, skofbevelvoerder van die Oudtshoorn Speurtak van die Polisie, vandag in die verhoor binne ’n verhoor in die Preston Titus-moordsaak in die Oudtshoorn rondgaande hooggeregshof getuig.
Bouwer het getuig dat hy saam met die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, en sers (v) Vuyokozi Ludonga op 12 Januarie 2018 na Port Elizabeth gegaan het nadat een van die verdagtes, Xisabiso Klip, na ‘n pleitooreenkoms met die staat in die Oudtshoorn Streekhof 15 jaar tronkstraf opgelê is vir sy aandeel in die moord..
Volgens hom het hulle Mooi in ‘n McDonald’s in Port Elizabeth gearresteer en daarna na ‘n plaaslike polisiekantoor geneem. Dit was volgens hom van die begin af duidelik dat Mooi ‘n arrogante houding gehad het en hy hom later onttrek het van die ondervraging. Hy het ontken dat hy vir Mooi sou gesê het hy moet in ‘n spieël kyk en sien dat hy swart is.
Bouwer het ook ontken dat hy en Le Roux in die nabyheid was toe twee vrouepolisie, serss Sheroné Flemmer en Ludonga, in die aanhoudingselle op Oudtshoorn met Mooi gepraat en hy daarna besluit het om oor die saak te praat.
Die staatsaanklaer, adv Christénus van der Vijver, het met die aanvang van die hofverrigtinge beswaar aangetreken teen die kruisondervraging van die ondersoekbeampte deur Titus se regshulpprokureur, Henk Carstens.
Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het daarmee saamgestem en bygevoeg dat Carstens geen mandaat het van Mooi om die ondersoekbeampte in die verhoor binne ‘n verhoor te ondervra nie. “Dit is die eerste keer in my 34 jaar as regsgeleerde dat ‘n ander prokureur in ‘n binneverhoor die ondersoekbeampte ondervra,” het Prinsloo bygevoeg..
Carstens het hierop gereageer deur te sê hy is van mening dat elke regsverteenwoordiger die geleentheid het om vrae te stel oor enigiets wat die ander beskuldigdes raak. Hy het egter instruksies van Titus gekry om nie verdere vrae te vra nie.
Dr Herman Kruger, ’n geneesheer by die Oudtshoorn Hospitaal wat Mooi die aand van 13 Desember 2017 voor die afneem van sy bekentenis en weer daarna ondersoek het, was die laaste van die staatsgetuies in die binneverhoor.
Volgens hom is Mooi vergesel deur twee persone van die polisie, en was hy heeltemal normaal en nie onder die invloed van enige dwelmmiddel of drank nie. Hy kon ook geen uitwendige beserings waarneem nie en die pasiënt het oor niks gekla nie.
Kruger het gesê Mooi se bewering dat hy net een keer die betrokke aand by die hospitaal was, is ook onwaar.
Die saak is tot môre (Woensdag 4 September) uitgestel na ‘n versoek van adv Prinsloo vir tyd om met Mooi te konsulteer.
- Regter Nolwazi Boqwana het hierna ‘n versoek van Carstens toegestaan om afskrifte van die beskuldigdes se borgaansoeke te bekom omdat hy moontlik vir Sixabiso Klip na die getuiebank wil terugroep.
- Titus, Stuurman en January se borgtog is verleng terwyl Mooi in aanhouding bly..