Polisiesersant en oud-reservis toon nie berou, word onder huisarres geplaas

’N POLISIESERSANT en ’n oud-reservis van Dysselsdorp is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof opgeskorte vonnisse opgelê en onder huisarres geplaas nadat hule skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Daniel Lingerveldt (41), wat tans die rang van sersant beklee, en David Voster (44), ’n voormalige reservis, het tereg gestaan op ’n klagte van moord na die dood van Frank Links. Die hof het bevind hulle het Links die aand van 13 Januarie 2012 in die Dysselsdorp Polisiekantoor aangerand nadat hy vir oproerige gedrag in hegtenis geneem is – Lingerveldt het Links met sy vuiste in die gesig geslaan en op sy bors getrap terwyl Voster hom agter die kop geskop en op sy bors getrap het. Links is in die polisiekantoor dood en die twee is van moord aangekla.

Hulle is egter aan moord sowel as strafbare manslag onskuldig bevind.
Streekklanddros Retha Pretorius het bevind dat die beskuldigdes nie die doel gehad het om Links te dood nie. Sy het egter gesê geweld teenoor oortreders kan nie geduld word nie. “Die magte van die polisie moenie gebruik word om die pu­bliek aan te val nie. Die oorledene was ongewapen en kon nie homself beskerm nie,” het sy gesê.

Die dood van die oorledene was volgens die landdros ’n tragiese en ongelukkige sameloop van omstandighede. Verswarend is die feit dat die twee lede twee opgeleide polisielede is en veronderstel is om mense te beskerm.

“Die oorledene was nog jonk en hy is ontneem van ’n volle lewe – om eendag te trou, kinders te hê en groot te maak. Sy familie het ’n seun en broer verloor en nog nie vrede daarmee gemaak nie.”

Volgens die landdros het die twee beskuldigdes geen berou getoon nie en moet ’n vonnis opgelê word wat die erns van die misdryf reflekteer en verhoed dat die gemeenskap reg in eie hande neem.

Lingerveldt, met twee vorige veroor­delings en wie in 2007 gevonnis is vir ’n geweldsmisdryf, het die misdryf gepleeg terwyl sy opgeskorte vonnis nog in werking was. Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en Voster tot drie jaar wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Lin­ger­veldt is voorts tot 36 maande en Voster tot 18 maande korrektiewe toesig gevonnis wat behels huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hulle moet hulle weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

• Willem Vister het vir die staat en Christo van der Bergh vir Voster en Lingerveldt verskyn. (Deur Garnett Wicomb)