Energieprojek wek kommer in Kannaland

DAAR is tans meer vrae as antwoorde oor ’n energieprojek ter waarde van R1,2 biljoen wat al sedert 2012 in Kannaland in die pyplyn is.

Verskeie sakemense en landbouers in die streek het die afgelope weke aan Die Hoorn gesê dat hulle bekommerd is oor die implikasies van so ’n groot projek in ’n klein landelike munisipaliteit met gebrekkige finansies.

Die beoogde projek is ’n vennootskap tussen die Kannaland Munisipaliteit en die firma Inovasure en is aanvanklik bekend gestel as ’n son-kragplaas. Daar word ook daarna verwys as die Kannaland Inovasure Energy Vault Program.

Die “Energy Vault” verwys volgens Inovasure se maatskappyprofiel na iets soos ’n baie groot UPS (Uninterrupted Power Supply) wat hernubare energie en Eskom-krag buite spitstye ontvang en terugvoer in die kragverspreidingsnetwerk.

Die kontrak sal geldig wees vir 25 jaar waarna die bates oorgeplaas sal word na die munisipaliteit. Volgens dokumente van die munisipaliteit hoef Kannaland egter nie kapitaal by te dra tot die projek of enige risiko’s te dra nie.

Carel Nel van Boplaas Wynkelder in Calitzdorp sê hy is ’n groot ondersteuner van ontwikkeling maar dat hy en talle ander Kannalanders onseker is hoe so ’n projek hulle sal raak.

“Ons het net te min inligting en weet byvoorbeeld nie wat die finansiële implikasies sal wees nie.”

Nel sê ook die groot wynkelders en fabrieke in Kannaland sal graag se-kerheid wil hê dat hulle oor die volgende dekades in die gebied in bedryf sal kan bly en dat daar betroubare kragvoorsiening vir hulle in Kannaland sal wees.

Jandré Human, bestuurder van die Ladismith Wynkelder, sê van die sakemense is bekommerd oor die leeftyd van so ’n energieprojek wat klaarblyklik van batterytegnologie gaan gebruik maak.
Hy het bevestig dat daar baie vrae is wat hulle hoop nog beantwoord sal word.

“Wat gebeur byvoorbeeld ná 25 jaar as die kontrak verstryk het en die batterystelsel is moeg?
“Hoekom wil ’n munisipaliteit wat enkele jare gelede nie hul Eskom-rekening kon betaal nie, betrokke raak by kragvoorsiening?”
Volgens die DA se woordvoerder vir finansies en ekonomiese geleent-hede, Deidré Baartman, het die Wes-Kaapse minister vir plaaslike rege- ring, Anton Bredell, egter vandees-week opdrag gegee dat die Kannaland Munisipaliteit nie die ooreen- koms met Inovasure mag onderteken nie.
Dit volg glo nadat die Wes-Kaapse DA hom versoek het om in te gryp by die projek. Volgens die party het die nasionale en provinsiale tesourie die projek onafhanklik ondersoek en “ernstige regsprobleme” gevind.
Wessel Rabbets, finansiële admini-strateur van die Kannaland Munisipaliteit, het op navraag gesê daar word die afgelope weke ’n vergadering oor die projek tussen die Wes-Kaapse regering en verteenwoor- di­gers van die Kannaland Munisipaliteit beoog, maar dat dit nog nie plaasgevind het nie.
• Reynold Stevens, munisipale bestuurder van die Kannaland Munisipaliteit, het vroeër vanjaar gesê die projek wil druk op die nasionale kraginfrastruktuur verlig en dat die doel daarvan is om die munisipaliteit ’n nuwe bron van groen energie te gee te midde van die kommer oor beurtkrag. (Deur Liesel le Roux)