Soos mense wêreldwyd kan getuig, het die COVID-19-pandemie en inperkings wat daarmee gepaard gegaan het, almal onkant betrap met baie wat sukkel om kop bo water te hou en nie kos en ander noodsaaklikhede kan bekostig nie.
In dié noodsituasie het ’n gesamentlike inisiatief, Covid-19 Voedselhulp (Covid-19 Food Relief), die lig op Oudtshoorn gesien – grotendeels gedryf deur die Oudtshoorn Besigheidskamer, Wes-Kaapse Departement Maatskaplike Ontwikkeling en die munisipaliteit om met die ondersteuning van plaaslike supermarkte en besighede duisende mense van kos en hulp te voorsien.
Terselfdertyd het gemeenskapsorganisasies soos Klein Karoo Connect (KKC), die Oudtshoorn Rotariërs, Round Table, Vryburgers, die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum, KKNK, reWOLusie en talle ander besighede en individue vanjaar al by die verspreiding van voedselhulp betrokke geraak.
KKC, ’n plaaslike inisiatief, het vroeër vanjaar die behoefte besef vir deurlopende voedselhulp en samewerking tussen betrokkenes.
“Een voorbeeld is toe Dennis Nghonyama, bestuurder van die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling op Oudtshoorn, vasgebrand het met vervoer en hy dringend kospakkies by mense moes kry. Deur KKC se netwerk is vervoer vinnig gereël en kon die pakkies by die regte mense uitkom,” sê Bernard le Roux, ’n bestuurslid van KKC.
Bernard vertel dat iemand by ’n ander geleentheid van ’n plaaslike boer gehoor het wat ’n oorskot blomkool het, en daar is blitsig plan gemaak om die blomkool as ’n skenking by die Scrosoppi Sorgsentrum te kry.
Deur samewerking en welwillendheid is honderde mense sedert Maart in die Groter Oudtshoorn gevoed. Komberse en ander noodsaaklik- hede is ook in behoeftige gemeenskappe versprei.
“Wat deurlopend duidelik geword het, is dat ons op ’n langer termyn meer volhoubaar aan voedselhulpe aandag sal moet gee.”
KKC het gaan kers opsteek by die Spensplaas-inisiatief in De Rust – ’n inisiatief waar volhoubare groentetuine deur die gemeenskap op 1 ha grond aangelê is. Die grond wat beskikbaar gestel word deur ’n boer van die omgewing, Swepie le Roux, word deur die gemeenskap bewerk en versorg.
Mense vind op verskillende maniere by Spensplaas baat. Jy kan in die groentetuine werk en in ruil deel in die oes of jy kan ’n maandelikse bedrag betaal en in ruil daarvoor vars groente kry. Die tuine word ook gebruik om voedselhulp te verleen.
KKC het intussen ’n soortgelyke projek geloods wat pas sy eerste groente-oes gelewer het.
“Die plaaslike besigheidsman en KKC-vrywilliger, Johan van der Westhuizen, het een ha grond by Henry en JP van der Westhuizen bekom wat so beplant sal word dat daar regdeur die jaar groente beskikbaar sal wees,” sê Bernard.
“Mense besef nie watter verskil ’n klein bydrae kan maak nie, of dit ’n stuk grond is wat jy beskikbaar wil stel of ’n paar pakkies saad wat jy kan skenk, dalk ’n uur of twee se tyd of ’n sak aartappels wat jy kan skenk. Dit is makliker om ’n verskil te maak as wat mense dink.”
• Diegene wat ’n bydrae tot die voedselhulp-inisiatief en/of die groentetuin-projek wil lewer, kan met KKC kontak maak op hul Facebook-bladsy, ’n e-pos stuur na info@kleinkarooconnect.co.za of WhatsApp na 027 82 461 2346. (Deur Louise Venter)