Twee tronk toe wat 85-jarige in haar huis dreig en beroof

TWEE jong mans van Ladismith wat ’n 85-jarige vrou in haar huis met ’n mes gedreig en beroof het, is in die Oudtshoorn Streek-hof aan huisbraak en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en onderskeidelik tot agt en tien jaar gevangenisstraf gevonnis.

Joshwill Januarie (19) en Morné Adams (23) het skuldig gepleit op albei aanklagte. Hulle het erken dat hulle op 18 Mei vanjaar die agterdeur van Maria Swart oopgebreek en twee potjies lekkers, sleutels, ’n mes waarmee jy koek sny, ’n selfoon en R900 kontant gesteel het.

Toe Swart die kombuis inkom, het die mans ’n lemoen in haar mond gedruk en haar met die mes gedreig. Hulle het haar na die slaapkamer gedwing waar hulle haar selfoon en R900 kontant van haar gevat het.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat twee jong mans ’n bejaarde weerlose vrou in die veiligheid van haar huis beroof en dat hulle hulself gelukkig kan ag dat sy nie ernstige beserings opgedoen het nie.

Swart sê in ’n slagoffer-impakverslag dat sy nooit kon dink dat so iets met haar sou gebeur nie.

“Ek is baie ongelukkig, hartseer, vernederd, seergemaak en kwaad. Ek los nie meer ’n deur of venster oop nie en is alewig bang en bevrees in my eie huis.”

Sy sê sy voel onveilig en vrees dat die beskuldigdes kan terugkom. Sy slaap sleg, lê feitlik heelnag wakker en haar bloeddruk- en suikervlakke het erg gestyg.

Wanneer sy dorp toe gaan en ’n man in haar rigting sien kom, loop sy ’n wye draai.

Die landdros het in ag geneem dat Januarie en Adams skuldig gepleit het en die klaer nie beseer is nie. Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die feit dat ’n bejaarde vrou in die veiligheid van haar huis beroof is.

Die ouer Adams is tot tien jaar en Januarie tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit. (Deur Garnett Wicomb)